Mnr. Kyle Durham, hoof van alternatiewe energie-oplossings by FNB-besigheid, sê daar is pasgemaakte oplossings en finansiering vir die landbou beskikbaar, maar dat boere huiwerig is. Uit hulle navorsing blyk dit dat as ’n boer byvoorbeeld ’n keuse het tussen ’n belegging in ’n nuwe pakhuis en ’n sonkragprojek, hy eerder die pakhuis sal kies omdat hy die risiko’s daarvoor verstaan. Geldelik kan die energieprojek egter ’n beter opsie vir sy onderneming wees.

Hy sê een van die doeltreffendste oplossings is ’n netwerkgekoppelde een. Dit bestaan uit twee dele – sonkragpanele en ’n omskakelaar na die kragnetwerk. Die elektriese krag wat die sonpanele opwek, word bedags gebruik in die plek van Eskomkrag, en snags en soggens word na munisipale of Eskomkrag omgeskakel. Dit kan help met ’n besparing van 30% tot 50% op ’n kragrekening.

Volgens Durham hang die verwagte kapitaalkoste vir ’n sonkragaanleg af van die boerdery se energiebehoeftes. Dit kan wissel van R120 000 tot R10 miljoen. “Die langtermynvoordele vanweë kostebesparings en die volhoubaarheid van die besigheid weeg egter baie swaarder as die aanvanklik kapitaalkoste. FNB bied moontlikhede vir die finansiering van die aanvanklike koste. Om die landbousektor te help om volhoubaar te bly, is van kernbelang om die ekonomie te herbou.”

Mnr. Paul Makube, senior ekonoom van FNB Agribesigheid, wys daarop dat ondanks die Covid-19-pandemie en die inperking die landbousektor vir R150 miljard se uitvoerprodukte in 2020 gesorg het, wat 3% meer as die vorige jaar was. Hy glo landbou-uitvoer sal vanjaar verder verhoog vanweë ’n groter verwagte mielie-oes en gunstige produksieomstandighede vir uitvoervrugte.

“Kragonderbrekings het egter ’n ongunstige invloed op pakhuise, verwerkingsaanlegte, inmaakfabrieke, koelkamers en besproeiing. Baie boerderye en seisoenale beplanning word ontwrig deur herhaaldelike kragonderbrekings.”

Hy sê boere kan alles moontlik doen om produkte van gehalte te produseer, maar die vermoë om die produkte teen optimale temperature op te berg, bepaal die gehalte wanneer dit die mark bereik. “Kragopwekkers wat ure aaneen werk om temperature te beheer veroorsaak onvolhoubare, bykomende koste. Al kan boere dieselkoste van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens terugeis, is die administratiewe proses ingewikkeld.”

Makube wys ook op die koste van elektrisiteit wat verder styg op 1 April. ’n Bedrag van 5,44c/kWh sal by die standaardtarief gevoeg word, wat die koers vir Eskom se kraggebruikers vir 2021-’22 op 134,3c/kWh te staan bring – ’n verhoging van 15,6%.