Kommersiële boere moenie van grondonderhandelinge onttrek nie. Dit is in grondeienaars se eie belang om deel te neem aan die proses vir die legitimering van landbougrond.

“Swart boere moet nie net toegang tot grond en die bedryf kry nie, maar volle eienaarskap. Eers as hulle die kaart en transport van plase kry en ’n gedeelde verantwoordelikheid en ervaring van die landbou het, sal die stem wat met die Regering praat heeltemal anders wees.” Só het dr. Piet Croukamp, bekende politieke ontleder, op die NWKV se jaarkongres in die Baai gesê waar hy een van die gassprekers was.

Croucamp het boere aangemoedig om by die Nasionale Ontwikkelingsplan betrokke te raak, maar hulle moet ook bereid wees om sekere toegewings te maak as dit by die herverdeling van grond kom. In ruil daarvoor kan daar bestendigheid wees en die “rus en vrede” kom wat die landbou baie nodig het.

Hy het gesê dit is jammer dat daar by so baie wit boere vooroordele en wantroue is jeens swart Suid-Afrikaners aan wie plase toegesê word. “Hier op die kongres is uit die mond van swart boere verneem dat hulle wol en skape ook gesteel word. Hulle word ook soos wit boere deur plaasaanvalle en misdaad geraak. Boere moet ook wegkom van die idee om swartes bloot as werkers te sien. “Daar moet swart bestuurders, swart tegnici en swart kundiges op die plase wees.”

Oor die aanstelling van mnr. Zenzeni Zokwana as Minister van Landbou het Croukamp egter voorbehoude: “Kragtens politieke identiteit is dit nie die beste aanstelling nie. Mens sou verwag het dat iemand wat ’n dieper kennis van die landbou het, in die pos aangestel word. Daar is ongelukkig te veel ministeriële aanstelling waar mense min ervaring van die betrokke portefeuljes het. Dit was die geval met me. Tina Joemat-Petterson by landbou en nou byenergie. Die oomblik as dit gebeur kom daar vervreemding  tussen die bedryf en die uitvoerende gesag.”

“Maar,” het hy bygevoeg, “noudat Zokwana die minister is, behoort boere vertroue in die stelsel te openbaar omdat dit belangriker as die individue is. Die minister moet gelei word om in te sien dat die stelsel en veral die uitvoering van die NOP belangrik is om stabiliteit in die land te verseker.”

Croukamp het gesê omdat Suid-Afrika weens die onrus in die mynbousektor ’n resessie in die gesig staar, wag daar moeilike tye op die land omdat minder kapitaal beskikbaar gaan wees. “As die ekonomie nie groei nie, is onbestendigheid en selfs vyandigheid ons voorland,” het hy gemaan.