Dr. Chris van Dijk, uitvoerende hoof van die Melkprodusente-organisasie (MPO), sê verbruikers koop onder meer baie minder vars melk en baie meer langlewemelk.

Volgens mnr. Bertus van Heerden, hoofekonoom van die organisasie, word melkverwerkers daarom verskillend deur die inperking geraak. Die onsekerhede maak boere se besluite moeiliker, omdat hulle vraagverwant moet produseer.

“Ons het vinniger kommunikasie oor markseine nodig, sodat die produsent kan verstaan wat aan die vraagkant gebeur,” sê Van Heerden.

Die MPO het reeds begin voorbrand maak vir meer gereelde kommunikasie tussen belanghebbendes. Dit sal nie noodwendig in die vorm van amptelike verslae wees nie, maar eerder kommunikasie tussen die betrokke belanghebbendes, soos ’n verwerker en die boere wat aan hom lewer.

Volgens Van Heerden is die inligting oor die produksie van onverwerkte melk redelik vinnig bekend, binne sowat 20 dae ná die einde van die maand, maar inligting vanaf instellings wat die vraag na produkte in die kleinhandel meet, is eers sowat drie maande later bekend.

Winterpremies

Van Dijk sê toe die inperking begin het, was daar verwerkers wat winterpremies met van 20c/liter tot 40c/liter wou verlaag, maar danksy onder meer die MPO se betrokkenheid, en druk deur die media, kon dit gekeer word.

Die produksie van onverwerkte melk het juis in 2018 en 2019 weens lae plaashekpryse gestagneer.

Van Heerden sê uit terugvoer van die mark klink dit of die vraag na onverwerkte melk nou goed is, maar ’n mens moet in ag neem dat dit winter is, wanneer produksie tradisioneel laer is.

Met die onsekerhede oor hoe die inkrimping in die ekonomie vraag gaan raak, meen die MPO melkboere moet produksiebesluite omsigtig neem en nie volume najaag nie.

“Produsentepryse het die eerste keer in meer as twee jaar begin herstel en hoë volumes in dié omstandighede gaan dié neiging nek omdraai,” sê Van Heerden.

Swak rand

Die melk-tot-voerprysverhouding is tans rondom 1,3:1, terwyl melkboere minstens 1,4:1 nodig het om volhoubaar te kan wees.

Voerpryse het gestyg, hoofsaaklik weens die verswakking in die rand. Die swakker rand het ook ’n gunstige uitwerking, omdat dit ingevoerde produkte duurder maak.

Van Heerden sê internasionale suiwelpryse het sedert die uitbreking van Covid-19 gedaal, maar weens die swakker rand in randwaarde gestyg.

Hy is bekommerd oor die opbou in internasionale voorrade van suiwelprodukte, maar die wisselkoers behoort in dié opsig te help.

Hy sien juis dat plaaslike kleinhandelaars het produkte wat hulle normaalweg invoer, met plaaslik vervaardigde produkte begin vervang. “Ek noem dit ekonomiese patriotisme en dit is ’n baie gunstige ontwikkeling.”

Van Heerden sê dit is belangrik dat Suid-Afrika eers aandag gee aan voorraad wat plaaslik opbou, voordat invoer oorweeg word.

Suiwel is gesond

Die MPO beoog om in die inperkingstyd en terwyl die ekonomie inkrimp met ander belanghebbendes in die suiwelketting saam te werk om die vraag na suiwelprodukte verder te stimuleer en bevorder.

Die organisasie beoog verskeie aanlyn aksies vir die viering van Wêreldmelkdag op 1 Junie.

Van Dijk sê die MPO gebruik Facebook deurentyd om die boodskap te versprei dat suiwelprodukte belangrike voedingstowwe bevat wat ’n mens se immuunstelsel versterk, dat gepasteuriseerde produkte veilig is, en dat sekere suiwelprodukte gevries of lank gehou kan word, wat nuttig is vir verbruikers in inperking.

Dr. Koos Coetzee, landbou-ekonoom, sê in Italië, wat baie erg deur Covid-19 getref is, het die vraag na suiwelprodukte in die algemeen nie gedaal nie, maar verwerkers moes aanpassing maak. Verwerkers wat gewoonlik mozzarella vervaardig, maak byvoorbeeld eerder parmesaan.