Mnr. Jakkals le Roux, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se veiligheidskomitee, sê die steel van groenmielies in landerye was die afgelope produksiejaar ’n groot probleem. “En nou moet ons die boere waarsku om paraat te wees wanneer hulle stroop en daar vragdiefstal kan plaasvind.”

Me. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van VL, sê hoewel hulle nog nie baie klagtes van vragdiefstal ontvang het nie, wil hulle boere steeds waarsku om paraat te wees en byvoorbeeld seker te maak wie presies die bestuurders is van vragmotors wat vragte oplaai, asook om vas te stel met hoeveel ton ’n vragmotor ’n plaas verlaat. Een van die metodes van vragdiefstal is waar bestuurders ’n paar ton van die vrag aan ’n ander silo teen ’n lae prys aanbied, en die oorblywende vrag by die silo aflaai waar die boer moet lewer. 

‘Tonne per dag’

Volgens die terugvoer wat VL van boere in die provinsie ontvang het, het die diefstal van groenmielies vanjaar gereeld voorgekom of was boere meer bedag daarop. “Dit wil voorkom of daar daagliks 2 ton tot 3 ton mielies in die omgewing van Kroonstad en Vredefort alleen gesteel word,” sê Buys.

Talle boere het selfs veiligheidswagte aangestel om hul landerye te patroleer, “en van die wagte word met pangas aangeval of op geskiet. Dit beklemtoon die omvang van die probleem waarmee boere in die provinsie te doen het,” aldus Buys.

Die gebiede waar dié diefstal al aangemeld is, sluit onder meer Allanridge, Bothaville, Bultfontein, Clocolan, Ficksburg, Heuningspruit, Hobhouse, Hoopstad, Kestell, Kroonstad, Odendaalsrus, Reitz en Wesselsbron in.

Buys sê ’n vergadering oor die kwessie is begin verlede maand op Kroonstad gehou. “Dit het uit die vergadering geblyk dat daar gevalle is waar boere sake by die polisie aanmeld, maar daar word slegs in enkele gevalle saaknommers bekom, terwyl OB-inskrywings slegs vir kennisname die norm is.”

VL het intussen ’n opname onder sy lede onderneem om die omvang van die probleem vas te stel, sodat planne gemaak kan word vir die volgende produksiejaar. 

Metode

Volgens Buys pluk groterige groepe mense glo mielies in landerye, waarna dit in gebruikte kunsmissakke gesit en met bakkies vervoer word. Die mielies word dan teen R2 elk in informele nedersettings verkoop.

“Daar is geen boere wat mielies aan mense in hul gebied verkoop nie. Al die mielies word aan silo’s van koöperasies gelewer,” sê Buys.

Een van haar voorgestelde oplossings vir die probleem is om ’n permitstelsel in te stel waarvolgens diegene wat mielies per hand aan mense verkoop, ’n permit van die betrokke boer moet kan lewer. Daarsonder moet die verkope onder die aandag van die plaaslike polisiekoördineerder gebring word.

Die komitee vir landelike veiligheid in die provinsie is versoek om dringend aandag te skenk aan die probleem, asook die feit dat talle boere nie saaknommers ontvang as hulle die diefstal aanmeld nie. Buys sê die Nasionale Vervolgingsgesag is ook gevra om aandag te skenk aan die suksesvolle vervolging van sake in die hof oor die besit van vermoedelik gesteelde mielies.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.