Hulle het al mooigepraat, vergaderings gehou en in Landbouweekblad-artikels en berigte gekla, sê mnr. Philip Crous, voorsitter van die Kamieskroon-boerevereniging. “Ons hou vergadering op vergadering, maar ons vorder nie.”

Die boere het oor die jare gevind dat die instandhouding van heinings een van die beste wapens in die stryd teen roofdiere is. Jakkalse en rooikatte was lank die grootste probleme, maar sedert 2010 het luiperds ’n reuseprobleem geword.

Benewens die geldelike verlies as gevolg van lammers wat doodgebyt word, het dit te riskant geword om skape in sekere kampe te plaas. Dis iets wat boere in die voortslepende droogte kwalik kan bekostig.

Hulle gaan ook môre (1 September) buite die ingang van die park betoog om besoekers aan die park bewus te maak van die skade wat roofdiere aanrig.

Petisie

Die Kamieskroon-boerevereniging se petisie op Facebook is daarop gemik om die bestuur van die Namakwa Nasionale Park van hul “uiterste ergernis met die park se blatante verontagsaming van sy verantwoordelikhede” bewus te maak.

Crous sê as gevolg van die swak bestuur van die park word boere rondom die park van hul inkomste en lewensbestaan beroof. Die redes daarvoor is dat die bestuur van die Namakwa Nasionale Park in gebreke bly om geskikte heinings op te rig en bestaande heinings in stand te hou om sodoende roofdiere in die park en weg van omliggende plase te hou.

“Parkamptenare sê om die springbokke, gemsbokke en rooihartbeeste in die park aan te hou, moet hul heinings 1,8 m hoog wees. Nie alle heinings is so hoog nie. Ons wil hê die heinings moet 2,4 m hoog wees. Die mense sê dit sal nie die luiperds uithou nie, maar ons meen dit kan ’n ordentlike skans tussen ons en die park te wees.”

Hulle versoek dat die bestuur van die Namakwa Nasionale Park omheiningswetgewing, soos vervat in die Wet op Omgewingsbestuur (Wet 57 van 2003), nakom. Hulle versoek ook dat die park se bestuur die veld in die park op ’n volhoubare manier bestuur en voldoende water en kos aan die diere in die park verskaf sodat die diere nie gedwing word om elders (buite die park) kos en water te soek nie.

Die boere dring daarop aan dat die parkbestuur genoeg personeel aanstel om dié verantwoordelikhede te bestuur.

In die petisie versoek hulle die parkbestuur om die regte van hul boere-bure te respekteer en die ekonomiese en maatskaplike impak van hul bedrywighede in Namakwaland te bestuur. “Ons gee om vir die omgewing. Ons gee om vir ons diere. Ons gee om vir die gemeenskap. Ons eis dat Namakwa Nasionale Park begin om dieselfde te doen.”

Die Namakwa Nasionale Park is op 29 Junie 2002 geproklameer. Dit is 700 km2 groot en strek van Namakwaland tot aan die Weskus.

Crous sê hulle hoop om minstens duisend handtekeninge te kry.

Lesers wat die petisie wil lees of teken, kan hier klik.