Hul waterkwotas is tot op 50% besnoei en die somerreën bly weg. Die gebied is bekend om sitrus en subtropiese gewasse soos avokado’s, piesangs, lietsjies en makadamianeute. Baie boere verbou ook groente.

Mnr. Pieter Vorster, voorsitter van Agri Letaba, sê die situasie word vererger deur die Departement van Waterwese se onvermoë of onwilligheid om die bouwerk aan die damwal af te handel. Terwyl die werk sloer, word die watervlak onder 60% gehou ter wille van die werkers se veiligheid.

Vorster sê daar loop dus nou duisende liters water weg tydens die reëntyd. Boere dra in tye soos nou die gevolge van die water wat nie opgevang is nie.

In 2016 is ’n kontrakteur aangestel om die eerste fase se werk te doen. Nadat dié kontrakteur, Blackhead, die oorloop van die dam met drie meter verlaag het ter voorbereiding vir die nuwe bouwerk, is halt geroep. 

Eers is gesê ander kontrakteurs moet nou ook die geleentheid kry om vir die opbou van die wal te tender, maar Vorster sê die besproeiingsraad het onlangs gehoor mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Waterwese, wil ingryp. Hy beoog om die departement se eie mense te gebruik om die werk gedoen te kry.

“Dit sal nou twee reënseisoene wees wat verbygaan terwyl die damwalprojek sloer. Ons gaan waarskynlik ’n derde seisoen se reën ook nie ten volle kan opvang nie,” sê Vorster.

"As dit nou begin reën, sal eers weer volgende April aan die wal gewerk kan word."

Woordvoerders van die Departement van Waterwese en Sanitasie kon nie vir kommentaar bereik word nie. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.