"Dit reën, maar net nie genoeg nie," klink al soos ’n koor, maar dit is vanjaar die storie van boere in die Wes-Kaap, want dis nie asof dit glad nie reën nie.

Landbouweekblad het begin Augustus met mnre. Frikkie Oosthuizen, Helmie Honiball, Danie Oosthuizen en Willie Breyl wat by Mosselbaai en Albertinia boer, op ’n skaapdag oor landboutoestande gesels.

Hulle sê hulle het tot dusver vir die hele jaar net 100 mm reën gekry. Verlede jaar was ook droog, met ’n totaal van 190 mm, maar toe het hulle "gereeld bietjies gekry" en op die ou end goeie oeste behaal. "Die reën kom, maar vanjaar is dit te min."

Vanjaar se droogte

Hulle sê daar was al sulke jare, dog die lewenskoste styg aanhoudend en dit raak nie juis makliker om te oorleef nie. Van hulle sê vanjaar se droogte lyk soos 2009 en 2010, ander sê lyk meer na 1996, terwyl nog een sê 1970 was ook so droog. Hulle het boonop eers April 1971 weer goeie reën gekry.

Hulle het nog nie hoop verloor nie. "As dit September reën, kan die jaar nog mooi eindig," het een van hulle opgemerk. "Dan sny ons Desember lusern."

Die boere sê hulle moet hul kuddes in stand hou. "Dis nie so maklik soos verkoop alle diere en koop weer as die droogte verby is nie. Ás jy dan diere in die hande kan kry, moet dit diere wees wat by jou omstandighede aangepas is."

Voer was teen Mei gedaan

Hulle voer al hul vee van verlede jaar af, aanvanklik met voer van hul eie plase, maar die voer was teen Mei op.

Die boere sê hulle hou maar die weervoorspellingswebblad www.yr.no dop, want al kan die webblad dit nie laat reën nie, maak dit jou darem vir ’n week bly.

Mnr. Artho Saayman van die plaas Platkop buite Riversdal wat die skaapdag gereël het, sê die droogte is die ergste wat hy nog beleef het. "Ons het nog geen noemenswaardige reën gekry nie. Ons het geen ondervog in die grond of reserwes nie.

Ruvoer so duur

"Ruvoer is onbetaalbaar duur. Ons kry al strooi en grondboonreste uit die Vrystaat, maar die vervoerkoste maak dit baie duur."

Hy sê gelukkig is mielies relatief goedkoop en kan help om energievlakke te handhaaf. "Ons kan dankbaar wees vir die lae mielieprys en rentekoers. Die wol- en vleispryse is reg, so, ek is bly ek het nie my skaapboerdery tot niet gemaak nie."

Hy gaan nie sy skape minder maak nie, maar sal die jong lammers strenger klas, en meer van die speenlammers laat gaan. "As ons voor 15 September goed reën kry, kan daar nog ’n oes kom en kos vir die diere. As ons later in die jaar sien daar is nie oespotensiaal op die graanlande nie, sal ons die vee moet injaag."

Hy sê verder al reën dit nog vanjaar, maar hulle kan nie oes nie, gaan hulle volgende jaar sukkel met ruvoer en kragvoerpitte. Hy sê 2010 was ook so ’n moeilike jaar. "Ek het al jare glad nie geplant nie of glad nie die ramme by die ooie gesit nie."