Om langer as ’n paar weke as ’n vegvlieënier op die Westelike Front in die Eerste Wêreldoorlog te oorleef, het iets spesiaals geverg. Vliegtuie was splinternuwe, onbeproefde tegnologie — pieperige kontrêpsies van seil, draad en hout, aangedryf deur vreesaanjaende, groot enjins. Gevaarlik genoeg op sigself, sonder dat ander vlieëniers nog op jou losbrand met gevorderde masjiengewere! Jy moes kophou om te oorleef.

Die Duitse baasvlieënier baron Manfred von Richthofen, oftewel die Rooi Baron, het elke teenstander wat hy afgeskiet het, grond toe gevolg, geland en ’n stuk van die vliegtuig afgebreek. Hy het dit dan in sy kaserne gemonteer om hom elke dag daaraan te herinner om op sy taak toegespits te bly. Vir hom was dit lewensbelangrik om te voorkom dat vrees die oorhand kry, want dan sou hy fokus verloor.

Die innerlike varkhond, soos hy dit genoem het, moes nie intree nie, want hy het geweet dít is hoe jy in vlamme afgeskiet sou word. Dié einste ongedissiplineerde, innerlike varkhond dwaal tans erg in Suid-Afrika rond, net soos ’n klomp rondloperbeeste op die buitewyke van ’n klein dorpie.

Ons is gewaarsku...

Jare lank al word gewaarsku dat die miljarde kubieke ton onbehandelde munisipale riool wat elke liewe dag in ons riviere gestort word, werklike gevolge sal hê. Toe kom die droogte en die gifstowwe in ons water word nie meer verdun nie. Nou vrek duisende lammers en kalwers en ons het nie eens ’n entstof in die land nie!

Die beste wat ons kan doen, is om boere aan te raai om hul diere se immuunstelsels met vitamienaanvullings op te bou. Is dit goed genoeg? Intussen kan Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) ook nie meer kontroleserums vir slapsiekte by perde voorsien nie. Boonop is die debakel oor bloutongentstof nog nie opgelos nie. Dr. Steven Cornelius, uitvoerende hoof van OBP, mag weg wees, maar dié instelling, soos Eskom, is nog lank nie op die herstelpad nie.

Daar is ook die verwoestende brande in die Tuinroete, van Knysna tot Port Elizabeth. Honderdduisende hektaar en honderde huise is in die vlamme verswelg. Miljarde rande se skade is aangerig. Dit kan vergelyk word met ander tragedies wat vir ewig deel geword het van die nasionale bewussyn, soos die Laingsburg-vloed.

As die berigte korrek is, was die brande se oorsprong ’n gesmeulery in die woude naby Knysna. Dat die vure so vinnig en ver kon versprei, was onmoontlik net die gevolg van natuurlike oorsake. Indien daar brandstigting was, is Suid-Afrika in baie groot moeilikheid.

Iets positief

Tussendeur al die terneerdrukkende voorbeelde van waar die land ernstig fokus verloor, is daar gelukkig ook uitsonderings, soos die graanbedryf in die somerreëngebied. Ná ’n katastrofiese vorige produksiejaar word ’n historiese oes gelewer. Dít ondanks ernstige struikelblokke, soos kommandowurm, oneweredige reënval laat in die seisoen en die heersende lae pryse.

Waar groot dele van die ekonomie die luukse het om aan kapitaalreserwes vas te hou, moet graanboere weer begin plant en miljoene rande in die grond steek, want dit is wat graanboere doen.

Sulke bemoedigende vertonings sit meer as net ’n bietjie wind onder die vlerke van ons nasionale ekonomiese vliegtuig. Dit is net jammer die vlieënier is nou nie juis die Rooi Baron nie, veral noudat die masjiengewere lelik agter ons begin losbrand. Dit gaan baie meer toewyding verg om ongeskonde uit die geveg te tree.

* Chris Burgess is redakteur van Landbouweekblad. Hierdie is sy redakteursbrief in LBW van 23 Junie.