Volgens prysinligting op www.vleispryse.co.za, wat die beste pryse vir lewende hawe in die Noord-Vrystaat aanteken, was die prys vir ’n speenkalf van minder as 200 kg lewende gewig vandeesweek R34,93/kg. Dié prys het verlede week op R29,52/kg gestaan.

Die prys vir ’n speenkalf van tussen 200 kg en 250 kg lewende gewig was vandeesweek R30,60/kg en die prys vir ’n speenkalf wat meer as 250 kg lewende gewig R26,99/kg. Die pryse wat verlede week vir dié gewigklasse aangeteken was, was R27,13/kg en R25,09/kg.

“Dit is moontlik dat hierdie styging net tydelik is. Ons het dit wel nie verwag nie,” sê Serfontein. “Vir ’n boer om gelyk te speel ten opsigte van die produksiekoste vir speenkalwers, moet die prys vir ’n speenkalf van groter as 250 kg lewende gewig op sowat R43/kg staan.”

Hierdie styging volg nadat speenkalfpryse van 15 Desember verlede jaar tot 15 Januarie met sowat 20% gedaal het. Dié daling het gevolg nadat pryse verlede Desember op ’n jaargrondslag ook met 20% gedaal het.

Bek-en-klouseer

Mnr. Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusente-organisasie, het onlangs tydens ’n bek-en-klouseer-inligtingsdag naby Louis Trichardt in Limpopo gesê boere moenie dink bek-en-klouseer is die enigste rede vir die daling in speenkalfpryse nie. Hy het gesê dat die droogte, politieke onsekerheid en die tipies swakker koopkrag van Januarie saam met die bek-en-klouseeruitbreking ongunstig op pryse inwerk.

“Maar ek dink nie dis die einde van die wêreld nie. Die mark sal homself weer regstel. Ons maak reeds vordering in die onderhandelinge met ons handelsvennote, en sal hopelik binnekort weer sekere produkte kan begin uitvoer.”

Naspeurbaarheid

Schutte stel voor dat die vleisbedryf intussen nader beweeg aan die plaaslike verbruiker deur goeie bemarking en verbruikersopleiding. Hy het ook ’n beroep op boere gedoen om erns te maak met die toepassing van ’n identifikasie- en naspeurbaarheidstelsel vir beeste en skape.

Dr. Mpho Maja, nasionale direkteur vir dieregesondheid in die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, stem saam. Sy sê as ’n behoorlike diere-identifikasie- en naspeurbaarheidstelsel in Suid-Afrika bestaan het, sou die land se handelsvennote vleis en -produkte bly invoer het, ongeag die uitbreking.

Intussen lyk dit of die uitbreking hokgeslaan is. Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye sal binnekort die gebied waar die siekte uitgebreek het, tot ’n inperkingsone kan verklaar. “Geen diere buite die siekte-beheersone is al positief getoets vir bek-en-klouseer nie,” sê mnr. Piet Warren, ’n wild-en-beesboer van Gravelotte. “Dit is baie goeie nuus vir ons.”

Warren het sy stem gevoeg by dié van dr. Pieter Vervoort, voorsitter van die nasionale dieregesondheidsforum, en ’n beroep gedoen op wild- en veeboere om geduldig te bly terwyl die direktoraat vir dieregesondheid die situasie monitor. “ ’n Fout weens oorhaastigheid nou kan die veebedryf baie duur te staan kom.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.