Volgens die Nasionale Oesskattingskomitee se voorlopige oppervlakteskatting, wat vandag bekend gemaak is, is die totale oppervlakte onder mielies 2,535 miljoen ha, wat 10,2% of 234 800 ha meer is as wat tydens die 2018-’19-seisoen aangeplant is. Dit is ook 0,64% of 16 000 ha meer as die aanvanklike voorneme. Daar is ook meer sojabone, sonneblomme en grondbone as die vorige seisoen aangeplant.

Volgens die voorlopige skatting, wat hoofsaaklik gegrond word op ’n nie-ewekansige opname deur die department van landbou se direktoraat vir statistieke en ekonomiese analise, is die voorlopige oppervlakte onder witmielies 1,515 miljoen ha, wat ’n toename van 16,67% of 216 400 ha is teenoor die vorige seisoen. In die geval van geelmielies is die oppervlakteskatting 1,020 miljoen ha, wat 1,84% of 18 400 ha meer is as die vorige seisoen.

Ander somergewasse

Wat die ander somergewasse betref, is die geskatte oppervlakte beplant met sojabone 757 000 ha, wat ’n toename van 3,63% of 26 500 ha verteenwoordig teenoor die vorige seisoen. Vir sonneblomme is dit 551 500 ha, wat 7,01% of 36 150 ha meer is en vir grondbone is die oppervlakte 37 100 ha, wat 85,04% of 17 050 ha meer is.

Die oppervlakteskatting vir sorghum het met 28,12%, van 50 500 ha tot 36 300 ha, teenoor die vorige seisoen afgeneem en vir droëbone is die oppervlakte 51 450 ha, wat 13,24% of 7 850 ha minder is.

Mnr. Wandile Sihlobo, senior ekonoom van die landbousakekamer Agbiz, het vroeër vandeesweek gesê daar is groeiende optimisme oor die seisoen se mielie-oes. Hy het daarop gewys dat ’n oppervlakte van 2,5 miljoen ha teen ’n gemiddelde opbrengs van 5 ton/ha ’n oes van minstens 12,5 miljoen ton kan oplewer. Dit sal 11% hoër wees as 2018-’19 se oes van 11,3 miljoen ton.

Die Amerikaanse departement van landbou was self optimisties met ’n voorspelling van 12,8 miljoen ton en die Internasionale Graanraad se skatting staan op 13,5 miljoen ton. Die departement skat die opbrengs op 5,1 ton/ha en die graanraad skat dit op 5,4 ton/ha.

Sihlobo sê hierdie opbrengs is moontlik as Suid-Afrika vir die res van die seisoen goeie reën kry. Die hoogste gemiddelde opbrengs in die afgelope dekade was die 2016-’17-seisoen se 6,4 ton/ha. Dit was ’n rekordjaar met ’n oes van 16,8 miljoen ton wat op 2,6 miljoen ha aangeplant was.

’n Hersiene oppervlakteskatting en die eerste produksieskatting vir somergewasse vanjaar word op 26 Februarie bekend gemaak.