In haar verklaring spring Siweya weg met beskuldigings oor “kommerwekkende vlakke” van versuim om die Covid-19-vervoerprotokolle na te kom en sy sê afstandhouding word nie op voertuie gehandhaaf nie.

Luidens haar verklaring sê Siweya dat Agri Limpopo binne twee weke vir haar ’n verslag moet gee waarin boere met ’n “veiliger vervoerplan” vorendag moet kom.

Mnr. Piet Engelbrecht, voorsitter van Agri Limpopo, sê hy weet nie wat sy daarmee bedoel nie. Dit was nie deel van die bespreking verlede week nie.

Engelbrecht sê na sy mening het die gesprekke goed verloop met die verskillende boere wat hul kwessies rondom die bestuur van die pandemie en die impak van die pandemie op pryse in hul bedrywe met haar bespreek het. Sy het boere geloof vir die feit dat hulle produktief gebly het deur die vlakke van inperking en hul werkers in diens gehou het.

“Sy het ons vertel dat sy voor die vergadering by ’n taxi-optelpunt langs die N11 aangedoen het en haar kommer oor die veilige vervoer van werkers uitgespreek,” sê Engelbrecht, maar boere het verduidelik dat hulle nie beheer oor die taxibedryf het nie. Boere het die adjunkminister verseker dat hulle alle nodige maskers en persoonlike veiligheidstoerusting aan hul werkers verskaf en gereeld opleiding doen oor die maatreëls wat hulle moet tref om hulself teen Covid-19 te beskerm. “Die meeste van ons werkers woon nie op die plase nie. Ons het geen beheer oor wat hulle doen voordat hulle by ’n plaashek inkom nie. Die adjunkminister moet dus haar bekommernisse met die taxibedryf opneem.”

Luidens ’n verklaring wat Agri Limpopo in reaksie op die verslag uitgereik het, sê Agri Limpopo boere is net so bekommerd soos die regering oor taxi’s se versuim om gehoor te gee aan gesondheidsprotokolle. Die organisasie beroep hom op die staat om in te gryp aangesien boere geen seggenskap het oor wat in taxi’s buite hul plaasgrense gebeur nie.

Die adjunkminister se besoek was deel van pres. Cyril Ramaphosa se onderneming om ministers na landelike gebiede te ontplooi om die impak van Covid-19 op dié gebiede te evalueer.