By Oudtshoorn is 15 mm tot 100 mm gemeet, terwyl dit 30 mm en meer by Swellendam, Heidelberg, Albertinia en Robertson gereën het.

Mnr. Joey Potgieter, ’n volstruisboer van Oudtshoorn, sê vanweë die droogte is daar nie juis lusern wat kan groei nie. Dis boonop te vroeg om lusern te vestig. “Die reën bring darem moed en hoop, en ons kry vog in die grond.”

Mnr. Pieter Gildenhuys van die plaas Kleinbosheuwel op die Heidelbergvlakte sê die 30 mm reën wat hulle gekry het, sal die lusernweidings laat bot, vir vog in die grond sorg en sal hulle help om onkruid op die graanlande te bestry. “Die water het alles ingetrek. Die gronddamme het daarom nog nie water nie.”

In dié dorp se berggebiede is 80 mm gemeet.

Mnr. Michel Gildenhuys, ook van Heidelberg, is opgewonde oor hoe vinnig die Duivenhoksdam besig is om vol te loop. “Vrydag was die dam nog 35% vol, en Sondag was dit 72% vol. Ek het gehoor die Buffeljagsdam het Sondag oorgeloop.”

reën, klimaat
Reën by Herbertsdale. Foto: Rian Fourie
reën, klimaat,
Reën by Herbertsdale. Foto: Rian Fourie

Droogte nie gebreek

Die grootste deel van die Karoo en Noord-Kaap is nog in die greep van ’n rampdroogte. Tussen Williston en Fraserburg, waar dit twee weke gelede 20 mm tot 30 mm gereën het, hoop boere op spoedige opvolgreën. Sekere dele het nog nie reën gekry nie.

Ook by Beaufort-Wes is die droogte nog nie gebreek nie. Mnr. Gustaaf Lund van die plaas Elandsfontein sê hulle het vroeg in Januarie sodanig reën gekry dat die veld “aan die bot is”. Hy is bekommerd oor die skade wat die heersende hoë temperature kan aanrig as hulle nie gou nog reën kry nie. “Ons sit in afwagting op ’n opvolg.”