“Dit klink dalk drasties, maar ons het juis nou drastiese ingrypings nodig om te kan oorleef,” het hy in ’n webgesprek gesê oor die gevolge van die pandemie en die landbou se pad vorentoe. Die gesprek is gereël deur die nuusdiens Food for Mzansi en Grobank. Dit het meer as 1 300 deelnemers gelok – sommige vanuit die buiteland.

Van der Rheede het gepleit dat die hele landbousektor in hierdie tyd met een stem moet praat. “As daar een sektor is waarheen die regering nou geldelike hulp kan kanaliseer, is dit na die landbou toe.”

Hy het gesê voedselproduksie gaan vorentoe nog belangriker raak en hy voorsien hulp met kospakkies aan 20 miljoen mense.

Volgens hom het Covid-19 mense se denkwyse verander. “Ons moet al ons struikelblokke op alle vlakke oorbrug. Daar is soveel jare met politiek, korrupsie en kortpaaie gemors. Ons moet wegbeweeg van die populisitiese benadering om 10 000 ha vir R40 miljard te koop en ’n groot gemeenskap daar te vestig. Sukses kom nie oornag nie, dit verg jare.”

Hy vra dat grondeienaarskap na swart boere uitgebrei moet word want dit, en nie nasionalisering nie, kan welvaart skep. Hy pleit ook dat almal respek vir mekaar sal hê. “Ons kan net sukses behaal as ons respek teenoor mekaar toon en vir mekaar omgee. Ons moet die massiewe gaping oorbrug tussen dié wat het, en dié wat nie het nie.”

Mnr. Bennie van Rooy, uitvoerende hoof van Grobank (voorheen die Bank of Athens), het verduidelik hoe die bank besig is om hom te vestig as ’n kommersiële bank vir die voedselwaardeketting.

Bankprodukte

’n Landboubesigheidspan binne die bank is in gesprek met boere op alle vlakke om bankprodukte te ontwikkel wat nommerpas vir boere is. “Ons wil nie net vir megaboere daar wees nie, maar ook ’n gemeenskapsbank vir kleinskaalse boere wees. Ons het ’n obsessie om boere as kliënte tevrede te stel en ek dink ons oortref reeds die verwagtinge.”

Hy het gesê die produkontwikkeling neem egter tyd en hy hoop om teen die begin van 2021 produkte vir kleiner boere gereed te hê. Waar boere nie grond as sekuriteit kan bied nie, sal daar gekyk word na maniere om produksierisiko’s te verminder en te sorg dat boere toegang tot markte het.

“Dan hoef ons nie net sekuriteit in ag te neem nie, maar ons maak steeds seker dat ons ons geld terug sal kry. Dit is ’n meer boervriendelike benadering, maar ons kan steeds voldoen aan kredietwetgewing.”

Grobank kyk ook onder meer na mikro-versekeringsprodukte en aftree-beplanning vir plaaswerkers.

Oor die onmiddellike gevolge van die inperking en die virus sê hy almal soek nou ’n kristalbal om in te kyk. “Die kristalbal wat in China gebou is, is ongelukkig dof en dit is moeilik om iets daarin te sien.”

Produksie naby woonbuurte

Dr. Naudé Malan, ’n senior lektor in ontwikkelingstudies by die Universiteit van Johannesburg en ook ’n konsultant vir stedelike boerderye, glo voedselmarkte sal ’n verandering ondergaan weens die Covid-19-pandemie en daar sal baie meer voedsel naby woonbuurte geproduseer word. “Kleiner boere sal ’n manier moet vind om in ’n groter mate hul produkte direk aan die verbruiker te lewer en die verbruiker sal in ’n groter mate wil weet waar sy kos vandaan kom.”

Hy meen afvalprodukte en voedselafval sal baie meer in ’n bate omskep moet word en hy sien groot voordele vir boere naby woonbuurte en informele nedersettings daarin. “Ek sal wil sien dat 30% van ’n boerdery gemik is op die vervaardiging van kompos. Bou ’n verhouding met jou plaaslike raadslede en bied aan om afvalvoedsel uit die gemeenskap te verwyder. Omskep dit in kompos en produseer organiese produkte,” is sy raad.

“Op hierdie manier is jou produk nie sommer net ’n tamatie nie. Dit is ’n tamatie wat binne die gemeenskap gekweek word met plaaslike afval wat in kompos omskep is en dus goedkoper as die tamatie in die supermark beskikbaar gestel kan word.”

Naspeurbaarheid

Dr. Vuyo Mahlati, president van Afasa en self ’n boer van Butterworth, glo ná die Covid-19-krisis gaan verbruikers baie meer bedag wees op wat hulle eet en waar die kos vandaan kom. “Ons sal baie meer klem op naspeurbaarheid moet plaas.”

Sy glo elke vlak van boerdery is van die grootste belang. “Daar is in die verlede gesê dit is kommersiële boerderye wat voedselsekerheid verseker. Kleinskaalse boere speel net so ’n deurslaggewende rol om huishoudelike voedselsekerheid te verseker. Daar is ’n belangrike skakel tussen kleinskaalse boerderye en informele handelaars. Die inperking het die leemtes wat bestaan, duidelik uitgewys.”

Sy het gesê vier belangrike kwessies om kleinskaalse boere te laat floreer, is minder regulasies en meer steun, logistieke ontwikkeling soos vervoer- en opbergingsgeriewe, meer navorsing oor huishoudelike voedselsekerheid en toegang tot lenings.