Arina, ook Landbouweekblad se kosredakteur wat benewens ’n druk weeklikse skedule keer op keer die heerlikste resepte ontwikkel en Boerekos-uitgawes voortbring wat op versamelrakke hul plek vind, het met die inperking die eerste keer in vyf jaar genoeg tyd gehad om in te skryf vir die kompetisie. “Ek het dit glad nie verwag nie, en dit is ’n groot verrassing.”

Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, het in reaksie hierop gesê Arina is een van die gevoelvolste kosskrywers wat hy nog teëgekom het. “Sy verstaan die siel van die plattelandse kos. Sy leef dit, sy is dit, sy is heeltemal outentiek.”

Lucille Botha, assistentredakteur wat ook nou by Boerekos betrokke is, sê Arina beweeg naby aan haar lesers en maak altyd tyd om hulle met raad oor resepte of spyskaarte by te staan. “Dis hoekom sy presies weet watter resepte haar lesers geniet en waardevol vind, en sy gee dit presies vir hulle. Min kosskrywers is so in voeling met hul lesers soos Arina.” 

Benewens vier boeke wat sy en Bernice van der Merwe saam geskryf het, het Arina ook al ses gesogte boeke geskryf, onder meer Onthaal, Vars uit die oond en Plaaskos.

Sy is as jong kosjoernalis ook met ’n Galliova-toekenning bekroon, as opkomende kosskrywer van die jaar.