Mnr. Francois Wilken, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL), beskryf in sy reaksie op ’n plaasaanval by Boesmanskop in die Zastron-omgewing die ontvoering van die 82-jarige mev. Daleen van der Hoven uit haar plaashuis in die middernagtelike ure as laakbaar.

Hy sê nog ’n moontlike motief is die gerug dat vuurwapens vir die onwettige mynwerkers in die Vrystaatse Goudveld gebuit word.

“Die mans wat haar Vrydag omstreeks 02:00 in haar slaapkamer oorval het, het dadelik op vuurwapens en kontant aangedring,” sê Wilken, wat die slagoffer as ’n aktiewe en sterk vrou beskryf wat ’n beesboerdery namens haar seun, mnr. Wally van der Hoven, op die plaas bedryf.

Die mans het vuurwapens gebuit, haar in haar voertuig, ’n Audi-sedan, gedwing en in die rigting van Lesotho gery. Hulle het Van der Hoven op die grens afgelaai by ’n FM-toring waar Lesotho-burgers die grens glo onwetting oorsteek.

Van der Hoven, wat die omgewing ken, het nieteenstaande hoofbeserings weens die aanranding met ’n ysterstaaf die grens oorgesteek en hulp by bekende Lesotho-burgers gevra. Hulle het alarm gemaak by mnr. Tom Rautenbach van Boesmanskop wat haar te hulp gesnel het.

Sy word tans in die waakeenheid van ’n Bloemfonteinse hospitaal verpleeg vir beserings en vermoedelik bloeding tussen die skedel en die breinvlies.

Die uitgebrande wrak van haar voertuig is later in Lesotho aangetref.

Mnr. Gerrit van der Walt (59), die man wat verlede naweek ’n aanvaller doodgeskiet het, boer sowat 50 km van die Van der Hoven-plaas.