Me. Chrisma van der Merwe en haar man, Dirk, wat al omtrent sy lewe lank op dié dorp woon en boer, het die impak van die droogte die eerste keer werklik gevoel toe die lusernlande wat hy op huurgrond aangeplant het, drie jaar gelede weens die droogte verdor het. Hulle het as gevolg daarvan ’n deel van hul inkomste verloor het, want hy moes sy Angorakudde met sowat 350 stuks verminder.

Sy vertel boere in dié gebied begin nou die droogte se angel voel. Die droogte neem krisisafmetings aan. “Ons moet van ons huisgeld vir die bokke se voer gebruik. Van die groot boere in die distrik het al gesê hulle het droogtehulp nodig.”

Soos baie ander boervroue het sy begin dink aan maniere om die verlore inkomste op te maak. Eers het sy geld met haar gebak probeer maak – beskuit, koekies, hertzoggies, koeksisters, pasteie en pizzas. Toe het sy kaas en jogurt begin maak, maar die kontant was nie beskikbaar om alles reg te kry vir die gesondheidsinspekteur nie.

“Ek dink toe daaraan dat ek van hekel hou, maar hier is dit darem te warm vir gehekelde komberse en dit kos baie geld om te maak en te verkoop. Ek moes iets kleins maak wat uniek aan die Karoo is. Hoekom dan nie ’n gehekelde, vet skapie nie?”

Sy het YouTube gebruik om ’n paar nuwe hekeltegnieke aan te leer en só het sy haar eerste twee skapies gemaak. Sy het dié skapies op haar Facebook-blad Fat Sheep geadverteer. Hulle het dadelik verkoop en sy het ’n bestelling vir nog 35 skapies gekry.

Dit het haar meer as twee maande gekos om dié skapies te maak. “Ek het elke dag van 07:00 tot 22:00, selfs 23:00 gehekel, maar hulle is klaar. ’n Vriendin het aangebied om die laaste 25 skapies se dele aanmekaar te werk, want my vingers het begin rofies maak en ek het spasmas in my rug- en armspiere begin kry.”

Sy was so bekommerd daaroor dat sy gedink het sy het karpale tonnelsindroom, maar met ’n draai by die dorp se apteek is vasgestel dit is ’n senuwee wat vasgeknyp word. “Ek het besef ek sal moet hulp kry. Tannie Erna Swanepoel en tannie Mien Coetzee van die distrik het dadelik aangebied om te help. My vriendin Carine van Heerden is aangestel vir vaswerk.”

Die bestellings het ingestroom en sy kon nie voorbly nie omdat dit haar ’n hele dag gekos het om een vettie klaar te hekel. “Ek vra toe die vrou wat by my huis skoonmaak, of daar vroue op die dorp is wat kan hekel. Die Maandag daag ses vroue op en ons leer hulle hoe om te hekel. Twee van hulle druk deur, maar dit is steeds te min mense vir die hoeveelheid bestellings.”

Sy het rondgevra en ’n paar ekstra hande uit naburige dorpe gekry om te help. “Dit gaan baie goed sover. Ek is ook bly om te sê ’n hele paar vroue wat werkloos was, sit daagliks by hul huise en hekel en verdien só van R600 tot R800 per maand.”

Al is daar so ver as Elim mense wat haar help om aan die skapies te hekel, het sy steeds meer mense nodig om haar te help. “Ek verskaf die wol en die penne en die vroue kan hekel waar en wanneer dit hulle pas. Ek het nog baie idees vir dinge wat ons kan hekel, soos matjies. Ons kan groot gaan met dié ding as ek nog hande kan kry om te help.”

Kontak Chrisma van der Merwe by 071 507 4993 of chrismadt@gmail.com om by dié projek betrokke te raak of bestellings te plaas.

Fat Sheep: https://www.facebook.com/groups/310833029780980/