’n Beproewing van langer as vyf jaar het op 18 November 2020 vir me. Alison Oates, ’n beesboer van Harrismith, geëindig toe een van die vier aanvallers wat haar op Sondag 4 Oktober 2015 wreed aangerand en verkrag het, lewenslank tronk toe gestuur is en ’n verdere 15 jaar opgelê is vir roof met verswarende omstandighede.

Themba (Steen) Makhubo is danksy DNS-bewyse met die verkragting op Oates verbind. ’n Tweede aanvaller kon slegs deur Makhubo geïdentifiseer word, maar hy het verkies om dit nie te doen nie, sê Oates. “Ek het later gehoor dat dié man in ’n motorongeluk dood is toe hy van ’n misdaadtoneel gevlug het, maar ons sal nooit weet nie.”

Oates is deur die booswigte met ’n strykyster gebrand, met ’n mes gesteek en verkrag. Dít was ’n martelsessie wat drie tot vier uur lank geduur het.

In die jare sedert haar aanval moes Oates telkens onverrigter sake by die hof omdraai wanneer die saak weer eens uitgestel word. Makhubo, wat op borgtog vrygelaat is, het in dieselfde omgewing as sy gewoon.

“Die beskuldigde het elke moontlike jakkalsdraai gegooi om die saak te laat sloer. Dit was seker sy reg om so te maak, maar dit was baie swaar. Dit was nie vir my nodig om elke hofverskyning by te woon nie, maar ek het gekies om daar te wees. Ter wille van my eie gemoedsrus wou ek sien wat gebeur.”

Makhubo het boonop die dag toe hy gevonnis is, tydens een van die onderbrekings tydelik verdwyn, wat verdere stres veroorsaak het, sê die DA in ’n verklaring oor die hofsaak.

Oates, wat ’n DA-raadslid van Harrismith is, is in die hof ondersteun deur kollegas soos me. Annette Steyn, die DA se skaduminister van landbou.

Steyn sê die DA wou betrokke wees omdat die party wou sien waar die haakplekke is wat keer dat geregtigheid geskied en hoe die party die proses kon aanhelp. Dis waarom die DA ’n eenheid gestig het wat die hofverskynings van plaasaanvallers bywoon. “Só wil ons verseker dat ondersoeke deeglik gedoen word en vervolging in die hof geskied.”

Afskrikmiddel

Streeklandros Hein van Niekerk het in sy uitspraak gesê ernstige misdaad neem toe in Suid-Afrika en dit word met voorbedagte rade gepleeg. Daarom moet vonnisse die aard van die misdaad in ag neem en as ’n afskrikmiddel dien vir voornemende misdadigers.

Oates sê die vasbeslotenheid waarmee sy vyf jaar lank geregtigheid nagejaag het, was juis om vir voornemende plaasaanvallers te wys dat hulle nie daarmee sal wegkom nie. “Al hierdie aandag op my was ontstellend, maar ek het dit gedoen omdat ek die openbare aandag op plaasaanvalle wou vestig, omdat ek wou hê geregtigheid moet geskied en iemand moet tronk toe gaan vir wat hulle gedoen het. Daar is ’n persepsie onder misdadigers dat jy jou nie hoef te bekommer daaroor dat jy vir jou oortredings gestraf sal word nie en ek wou dit beveg.”

Oates het teenoor Landbouweekblad ook haar dank uitgespreek teenoor Vrystaat Landbou wie se hulp volgens haar van onskatbare waarde was, asook haar kinders en vriende wat haar deurentyd bygestaan het.

Sy wil baie graag aanhou boer, hoewel dit toenemend riskant raak. sê Oates. Sy lewer Brangus-speenkalwers aan die agterkant van die Platberg in die Swinburne-omgewing. Benewens die boerdery en haar politieke verpligtinge mentor sy opkomende boere.

Dít alles, sê sy, voed haar siel. “In alle eerlikheid, ek weet nie of ek dit weer sal kan deurmaak nie, dit was regtig swaar. Maar ek het nie so hard geveg om aan die lewe te bly net om nou op te gee nie. Ons kyk vorentoe.”