Mee. Theresa du Plessis-van der Mescht, Lizemari de Klerk en Anita Brown boer almal al meer as vyf jaar. Die groenteboer mnr. Brian Venema voltooi die viertal wat sal meeding om die titel as 2019 se Jongboer van die Jaar in Gauteng.

Mnr. Thinus van Zijl, ondervoorsitter van AgriGauteng, sê die organiasie teken vanjaar verskeie eerstes aan. “Buiten dat dit die eerste keer is dat Agri Gauteng soveel vroulike finaliste in die kompetisie het, bied die organisasie vanjaar die eerste keer ’n jongboerkonferensie aan. Ons is dus twee maal so trots, omdat ons die dinamika in ons organisasie nou deeglik kan illustreer.”

Van Zijl was vol lof vir die jong boere binne Agri Gauteng wat aan die kompetisie deelneem. “Die gehalte van boere wat ingeskryf het, is besonder hoog. Buiten dat elke finalis haar- of homself reeds oor ’n hele aantal jare heen as uitstekende boere bewys het, is daar in elkeen ’n duidelike passie vir die landbou en ’n visionêre ingesteldheid wat maak dat elkeen uit eie reg uitstaan.”

Die vier finaliste sal gedurende die week van 30 Junie tot 6 Julie beoordeel word met die wenner wat op Agri Gauteng se kongres op 22 Julie aangekondig sal word.

Die vier finaliste is:

  • Me. Anita Brown van Greenway Farms by Tarlton wat konsentreer op wortelboerdery en versapping.
  • Me. Lizemari de Klerk van Blanquard Brahmane op Onderstepoort wat boer met ’n Brahmanstoetery, Pediskape en Boerbokke.
  • Mnr. Brian Venema van Rosaly Boerdery by Tarlton wat boer met wortels, kropslaai, pampoen en mielies.
  • Me. Theresa du Plessis-van der Mescht van Shirita Boerdery naby Grootfontein wat boer met Brahmane, Simmentalers en mielies.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.