Volgens die 37-jarige Ferreira van die plaas Grootdraai naby Harrismith is jong landbouers onmisbaar. “Want elke mens het die landbouer drie maal per dag nodig.” Hy meen hulle is ook die kern van enige ekonomie. “Sonder ’n sterk landboubedryf is ’n land se volhoubare bestaan in die gedrang.”

Hy is op ’n glansgeleentheid van Vrystaat Landbou se jongboerkomitee in Bloemfontein bekroon. Hy is onder meer vir die familieboerdery se kommersiële en Bonsmarastoetery verantwoordelik, asook appelverbouing op 32 ha en ’n voerkraal. As deel van sy optimistiese uitkyk op die lewe sê Ferrera hy het nog nooit misluk nie. “Maar ek het al ’n duisend keer maniere ondervind wat nie werk nie,” sê hy.

As deel van sy prys besoek hy teen die einde van Augustus fabrieke van Case in Amerika.

Die naaswenners was mnre. Reece Dedwith (melk) van die plaas Rockridge naby Parys, Wessel Hattingh (saai) van Dipkraal naby Heilbron en Hendrik Theron (Bonsmaras) van Wolwekop naby Dewetsdorp. Ander afdelings, soos skape, gewasse, wild en appels, maak ook deel van dié landbouers se werksaamhede uit.

Volgens prof. Pieter Fourie, hoof van die department van landbou by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie en sameroeper van die beoordelaarspaneel, is dit nie die grootte van ’n boerdery wat ’n landbouer laat wen nie. “Hy moet ’n voorbeeld stel vir ander oor die algemeen, asook vir jong landbouers.”

Afdelings waarin hulle beoordeel is, sluit onder meer toekomsbeeld, begroting en finansies, produksie, bemarking en gemeenskapsbetrokkendheid in. Die belangrikste maatstawwe is bestuursfilosofie en hoe tegniese vaardighede aangewend word om dit toe te pas.