Volgens mnr. James Briggs van Irrico-besproeiingsdienste het verskeie boorgate by Graaff-Reinet, Cradock, Bedford, Adelaide, Tarkastad, Pearston en elders in die provinsie reeds opgedroog. “Daar was geen reënval hierdie somer nie. As dit nie teen Maart reën nie, gaan daar ’n katastrofe wees. Die probleem is ook water vir vee, want baie boere gebruik boorgate om vir hul vee water te gee.”

Luidens ’n verklaring sê Agri Oos-Kaap dat boorgatvlakke daagliks sak en dat oppervlakwater amper heeltemal opgedroog is, wat tot groot probleme met die verskaffing van water vir vee kan lei.

“In die huidige droogtetoestande is dit ’n baie ernstige situasie,” sê me. Riona Kruger, ’n prinsipaal-geoloog van SRK Consultanting South Africa, wat onder meer konsultasiedienste vir waterhulpbronne verskaf. “Ons almal is bewus van dalende dam- en riviervlakke, maar omdat grondwater ‘onsigbaar’ is, word daar nie so ernstig daarna gekyk nie en word die watervlakke nie oral gemonitor nie.”

Monitor reën én grondwatervlakke

Sy sê dat die gebruik van grondwater ’n goeie idee is wanneer oppervlakbronne onder druk is, mits boorgate deurlopend gemonitor word en lewerings aangepas word om die akwifeer (waterdraende rotsmassa) te bewaar.

Volgens Kruger is die kans goed dat grondwaterbronne se lewerings sal verminder as meer water aan die akwifeer onttrek word as wat aangevul word. Dit gebeur tydens droogtes wanneer die aanvulling beïnvloed word, aangesien reënwater hoofsaaklik ondergrondse water aanvul en daar meer onttrekkings is omdat meer gebruikers boorgate sink. Die aaanvulling tot akwifere geskied nie noodwendig onmiddellik ná goeie reën nie. In sommige gevalle kan dit etlike jare duur.

”Hoe meer gebruikers boorgate in ’n bepaalde akwifeer sink, hoe minder is daar vir almal om te gebruik.”

Sy benadruk egter dat daar verskeie faktore is wat boorgatlewering of akwifere se aanvulling kan bepaal en dat dit ’n baie ingewikkelde veld is, selfs vir wetenskaplikes.

Sy sê dit is uiters belangrik dat die watervlakke in boorgate saam met reënval gemonitor word. Die nodige aanpassings moet gemaak word as watervlakke nie na normaal herstel nie, hetsy deur onttrekking te verminder of dit stop te sit.

Die naweek se reën?

Alhoewel daar oor die naweek wydverspreide reën oor groot dele van die Karoo geval het, verduidelik Kruger dit is moeilik om te sê watter verskil dit aan die akwifeer se watervlakke sal maak.

“Indien aanvulling (meestal reënval, oor ’n tydperk) goed is, dus, indien daar voldoende reënval is, behoort ’n taamlike groot gedeelte van ons ondergrondse waterbronne te herstel – sommige vinniger as ander - byvoorbeeld ’n sand akwifeer sal moontlik vinniger herstel as ’n diep fraktuur akwifeer,” sê Kruger.

“Sommige van die ondergrondse bronne kan wel langer vat om te herstel – afhangend van die deurlaatbaarheid en die tempo waarteen water deur die frakture kan beweeg. Dit alles is natuurlik gekoppel aan die hoeveelheid water wat gebruikers onttrek. Dit gaan alles oor die balans tussen onttrekking en aanvulling.”


Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.