Hulle is ongedeerd, maar erg getraumatiseer. Hul kleinseun mnr. Hans Greyling (21), wat ten tye van die voorval by hulle aan huis was, is ook ongedeerd. Hy is die seun van hul seun wyle Willie.

Hul ander seun, mnr. BP Greyling, wat naby hulle op die plaas Langfontein boer, het aan Landbou.com gesê sy ouers en Hans was Sondagaand in die huis op die plaas toe die rowers met vuurwapens daar instorm. Hulle het klapmusse gedra om nie geëien te word nie.

Hulle is kort daarna weg met al die vuurwapens, ammunisie, kontant en juweliersware wat hulle in die hande kon kry. ’n Buurman het BP verwittig en hy is inderhaas daarheen om hulp te verleen.

’n Boer, mnr. Curt Paul van Panbult in Mpumalanga, het kort daarna twee verdagtes in ’n Fortuner by Driefontein tussen Wakkerstroom en Dirkiesdorp van die pad getrek, net 35 km van Bovenvallei, maar die insittendes het te voet gevlug. Hy het alarm gemaak en die polisie het die spoor met ’n hond gevolg. ’n Pistool en ’n pakkie ammunisie is daar naby opgespoor, maar daar was geen teken van die verdagtes en hul ander buit nie.

BP, wat in 2011 Suid-Afrika se Boer van die Jaar was, sê ondanks sy hoë ouderdom boer sy pa nog heeltyds met wolskape en vleisbeeste.

Die polisie volg alle leidrade op.

Greyling sê meer as twee verdagtes word die afgelope twee dae onverpoos gesoek.


Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.