Mnr. Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die RPO, het op Agri SA se nuuskonferensie oor die droogtesituasie in Suid-Afrika gepraat oor die ooraanbod van rooivleis op die mark en die lae pryse wat veeboere knou. Hy het gesê die vleisbedryf beleef op die oomblik ’n perfekte storm.

“Dit is nie net die droogte wat knel nie. Boere ondervind ernstige kontantvloeiprobleme weens voerpryse wat styg en vleispryse wat daal, daar is politieke onsekerhede soos onteiening sonder vergoeding, ingevoerde hoendervleis maak die bedryf seer en by dit alles is daar nou die terugslag met bek-en-klouseer wat uitgebreek het. Dit alles dra by tot die ooraanbod op die mark. Kom ons braai en eet die probleem op.”

Hy het daarop gewys dat speenkalfpryse op ’n jaargrondslag al met 33% gedaal het, die produsenteprys vir lamsvleis het met 15% gedaal en vir beesvleis met 11%. Schutte het ’n versoek tot handelaars gerig om hierdie laer pryse aan verbruikers deur te gee. “Die produsenteprys vir beesvleis staan op R41/kg en vir skaapvleis op R63/kg. Verbruikers moet by hul slagters seker maak hulle trek voordeel uit hierdie lae pryse.”

Die RPO se boodskap aan die Regering is dat ekonomiese groei en beleidsekerheid dringend nodig is. “Verder is droogtehulp ook dringend nodig. As dit nie voor die winter verskaf word nie, wag daar werklik baie ernstige probleme.”

Schutte het gesê kommunale boere, wat 40% van die land se beeskudde besit, sal die kwaaiste getref word. Meer as 1,2 miljoen huishoudings is van vee vir hul voortbestaan afhanklik en hulle kan nie hoë voerpryse bekostig nie.

Mnr. Dewald Olivier, uitvoerende direkteur van die SA Voerkraalvereniging, het na die hoë aanbod verwys en gesê daar was oor die Kerstyd ’n bottelnek by abattoirs. Rekordgetalle diere is geslag. Dit het pryse laat daal, terwyl dit normaalweg in dié tyd ’n hoogtepunt bereik. “Verbruikers sal moet help om ons uit die moeilikheid uit te braai en te eet.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.