Mnr. Danie Brand (82), sy vrou, Breggie (73), en hul dogter, Elzabie (54) is op 26 Julie op hul hoewe in Magogong naby Hartswater aangeval. Hulle is in hul eie motors ontvoer en later vermoor.

Mnre. Tsepho Visagie (36), Donald Seoleseng (20), Tshepaone Melato (19) en Realeboga Manyedi (19) het aangedui dat hulle nie om borgtog wil aansoek doen nie. Me. Kgomotso Mpulwana (42) het egter intussen ’n regsverteenwoordiger bekom en is van plan om vir borgtog aansoek te doen.

Die verdagtes bly in aanhouding tot die saak weer 27 Augustus in die hof aangehoor sal word. 

Boere en ander lede van die Vaalharts-gemeenskap het weer aan ’n vreedsame protesoptog deelgeneem om enige borgtog aansoeke teen te staan en protes aan te teken teen geweld en misdaad.

optog vaalharts
Foto: Verskaf
optog vaalharts
Foto: Verskaf
optog vaalharts
Foto: Verskaf
optog vaalharts
Foto: Verskaf

Tydens die verdagtes se eerste verskyning het die Vaalharts-distrikslandbou-unie, Agri Noord-Kaap en verskeie ander rolspelers ’n petisie en versoekskrif aan die staatsaanklaer oorhandig om nie borg aan die verdagtes toe te staan nie. Die petisie is deur sowat 600 mense onderteken.

Vandag is ’n bykomende 1250 petisievorms van plaaslik en oral in die Noord-Kaap aan die staatsaanklaer oorhandig.

Die lede van die DA se hofmoniteringskomitee het ook die verrigtinge bygewoon, sê me. Annette Steyn, DA-LP.  Die doel van die komitee is om die hantering van hofsake te monitor ten einde te verseker dat geregtigheid geskied.