Elzabie se lyk is Maandagnag uitgewys nadat verdagtes vroeër die dag in hegtenis geneem is, en haar ouers se liggame is later in dieselfde omgewing gevind. Hulle is vermoedelik Sondag reeds rondom middagete in hul huis in blok M op die besproeiingsperseel oorval en ontvoer.

“ ’n Groot tragedie het die gemeenskap van Vaalharts getref met dié ontvoering van die Brand-familie en die sinnelose plaasmoorde. Die Vaalharts-distrikslandbou-unie wil ons simpatie en medelye aan die Brand-familie oordra,” sê mnr. Stefan Smith, voorsitter van die unie.

Luidens ’n verklaring sal lede van die landbou-unie en ander plaaslike organisasies deelneem aan ’n wettige en georganiseerde optog met die verdagtes se hofverskyning. “Tydens hierdie geleentheid sal daar versoekskrifte en petisies van die landbou-unie, Agri Noord-Kaap en die Magogong-landbouvereniging aan die staatsaanklaer oorhandig word.”

Smith sê die unie veroordeel die misdade ten sterkste. “Landboumisdaad is ’n nasionale krisis en raak nie net voedselproduksie nie, maar ook landelike stabiliteit en die landelike ekonomie.”