Dian Terblanche (18) het 85% brandwonde opgedoen toe hy en sy pa, Dieter, op Woensdag 5 September ’n veldbrand langs die pad tussen Reitz en Petrus Steyn gaan help bestry het.

Hy is onder verdowing in ’n kritieke toestand in die Milpark-hospitaal in Johannesburg. Sy regterarm is intussen geamputeer.

Dieter, wat vir die chemiese maatskappy BASF in die streek werk, sê hulle het die brand redelik onder beheer gehad. Hy was in die bakkie. Dian was buite toe die wind skielik draai en die hernieude vlamme hom binne oomblikke oorweldig.

Dieter het self ligter brandwonde opgedoen en sterk nou in Milpark aan.

Dian is ’n kranige rugbyspeler. Hy was die afgelope seisoen die kaptein van die Hoërskool Reitz se eerste span. Hy is in die Julievakansie gekies om in die Oktobervakansie as lid van die VKB- plattelandse span na Ierland te toer.

Dian se ma, Riana, is onderwyseres aan dieselfde skool.

Ook in Milpark lê mnr. Mof Myburgh van Kroonstad, wat saam met nog ’n boer en beesteler, mnr. Burnie Staal, brandwonde opgedoen het toe hulle saam ’n veldbrand tussen Kroonstad en Welkom gaan help bestry het.

Myburgh het 35% brandwonde opgedoen, hoofsaaklik aan sy hande, gesig en veral kop. ’n Lang pad van herstel lê voor, maar teen Saterdag het dit reeds beter met hom gegaan.

Staal is minder ernstig beseer.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.