Die korttermynversekeringsafdeling van Old Mutual is een van die korporatiewe skenkers wat ruimskoots bydra tot VL se rampfonds ná die verwoestende veldbrande veral in die Wes-Vrystaat. Old Mutual het dié sleepwaens elk met ’n inhoudsmaat van 1 000 liter by ’n Johannesburgse verskaffer bekom en werknemers van die maatskappy het dit met hul eie voertuie na Bloemfontein vervoer. 

Die skenking volg ná die onlangse rampspoedige brande in die Wes-Vrystaat, dele van die Noord-Kaap en Noordwes waar die behoefte aan beskikbare brandbestrydingstoerusting duidelik geblyk het. Die sleepwaens is onder meer toegerus met brandstofpompe, dieselfilters, brandblussers en noodwiele.

VL sal die toerusting aan strategies belangrike plekke in die provinsie toewys waar die grootste brandgevaar kan ontstaan. Die dieseltenkwaens sal brandbestryders in staat stel om hul voertuie vinniger met brandstof te hervul sonder om hul werk lank te onderbreek. Die 10 grootste weidingsgebiede wat VL uitgewys het, is die distrikte Trompsburg, Rouxville, Dewetsdorp, Steynsrus, Hertzogville, Heilbron, Welkom, Boshof en Bultfontein. 

Me. Antonia Oakes, hoof van Old Mutual se klantediens, het tydens die oorhandiging ook ’n skenking van 10 000 liter diesel vir die tenks bekend gemaak. Volgens Oakes help die skenking van brandbestrydingstoerusting om haar maatskappy se blootstelling aan risiko te verlaag in ’n deel van die land se landboubedryf wat uiters belangrik is vir die streek se ekonomiese vooruitgang.