Die groep het 1 000 kospakkies en veevoer van R200 000 aan die gemeenskappe geskenk.

Luidens ’n verklaring word al die skenkings in die Shoprite-groep se Act for Change-fonds inbetaal, wat spesifiek gestig is om gemeenskappe wat ’n krisis ervaar, by te staan. Die skenkings sal na Gift of the Givers gaan om dié organisasie by te staan met sy werk in die gemeenskappe wat deur die brande geraak is.

“Ons klante is die verpersoonliking van ubuntu, en ons jubel oor hul ondersteuning,” sê mnr. Lunda Schoeman, die groep se bestuurder vir korporatiewe sosiale belegging.

shoprite skenkings brande
Foto: Verskaf

Klante van die groep wat steeds skenkings wil maak, kan R5 of meer by ’n kasregister by enige Shoprite, Checkers of Usave in die Vrystaat betaal. 

“Die vrygewigheid van Shoprite, Checkers en Usave se klante sal aangevoel word deur hul bure in die Vrystaat,” sê mnr. Badr Kazi, direkteur van Gift of the Givers.

Hoop ná die reën

Intussen sê mnr. Gys Olivier, voorsitter van Agri Hertzogville, hulle is ongelooflik dankbaar vir al die hulp wat die gemeenskappe ontvang het. Hy sê die gebied het sedert die brande reeds van 60 mm tot 70 mm reën gemeet, waaroor hulle ongelooflik dankbaar is. “Dis die eerste keer in baie jare dat die boere vroeg kan begin plant. Die boere se gemoed is ligter.”

Hy sê talle boere het ná die reën voer begin aanplant, wat later in die seisoen sal help om boere wie se grond onder die brande deurgeloop het se vee te help voer.

“Intussen probeer ons om sover moontlik die boere in die Noord-Kaap by te staan met skenkings van veevoer en ander goedere wat ons ontvang het.” Olivier sê hulle is deeglik bewus van die boere in die Noord-Kaap wat steeds in die greep van erge droogte is en hulle probeer help sover as wat hulle kan.