“ ’n Vragmotor het by Warrenton op die N12 omgeslaan en vonke het die vragmotor, bale en veld aan die brand gesteek. Geen kwaadwilligheid was betrokke nie,” sê Olivier in ’n teksboodskap aan Landbou.com.

Mnr. Nicol Jansen, voorsitter van Agri Noord-Kaap, sê hulle weet ook nie van voorvalle van brandstigting van voertuie of voerhulp wat na die omgewing op pad sou wees nie.

Mnr. Wimpie van Deventer, eienaar van RiJan Veiligheid, Kommunikasie en Beskerming in die distrik Hoopstad, sê gerugte dat ’n vragmotor met hulpvoer in dié distrik aan die brand gesteek is, is vals. Hy sê hulle weet slegs van die een vragmotor wat by Warrenton weens ’n ongeluk gebrand het.

Jansen sê ’n brand wat vermoedelik natuurlik ontstaan in die omgewing van Kimberley en Warrenton vroeër vandeesweek het gistermiddag weens donderstormaktiwiteit en sterk wind opgevlam. Die brand woed steeds in die rigting van Boshof. “Die wind was so sterk dat die brand binne seker ’n uur baie erg gebrand het.”

Die distrikte Kimberley, Warrenton en Hartswater het vandeesweek ook onder brande deurgeloop. In die Wes-Vrystaat het die distrikte Hertzogville, Dealesville, Boshof en Bultfontein brande gehad. Die eerste brand het Sondag by Hertzogville ontstaan nadat betogers ’n watertenk en glo bande op die pad net buite die dorp aan die brand gesteek het. Van dié brand het drie brande in verskillende rigtings van Hertzogville af ontstaan.

Volgens Vrystaat Landbou het meer as 100 000 ha reeds afgebrand. Olivier sê duisende stuks vee en wild is dood.

Gevaar

Intussen sê die Vrystaatse sambreelorganisasie vir brandverenigings vliegtuie word sedert vroeg vanoggend gebruik om die brand vanaf Kimberley in die rigting van Boshof te beveg. Spanne wat die brand beveg het, is omstreeks 03:00 gevra om hulle weens uitputting te onttrek. 

’n Vliegtuig het die gebied gepatrolleer en drie brandpunte is geïdentifiseer. Vliegtuie wat water afgooi, is na dié gebiede gestuur. Die spanne op die grond hou die situasie fyn dop, met voorspellings vir nog donderstormaktiwiteite vandag.

Die organisasie vra lede van die publiek om nie die situasie verder te bemoeilik deur ongeorganiseerd by die tonele op te daag nie.

“ ’n Spesifieke kwessie wat gedurende die operasie geïdentifiseer is, is die groot aantal lede van die publiek wat kom om by die brandlyne te help. Individue en groepe van reg oor die land het op versoeke vir bystand op sosiale media gereageer. Wanneer hulle ongeorganiseerd by die brandlyne opdaag, plaas hulle hulself in gevaar en belemmer gekoördineerde pogings om die brande in bedwang te bring,” sê mnr. Sakkie van der Schyff, woordvoerder vir die organisasie.

Intussen is me Annette Steyn, die DA se skaduminister vir landbou, in die Boshof omgewing om eerstehands te sien wat die skade is wat die brande aangerig het.