Om die situasie verder te vererger, het sommige dorpe se munisipale brandweerdienste ineengestort en is hulle afhanklik van die hulp wat boere kan bied.

“Ons is baie bekommerd oor sabotasie. Dit het reeds in die verlede gebeur dat brande kwaadwillig gestig is en dit gaan vorentoe weer gebeur,” sê mnr. Boeta du Toit, uitvoerende hoof van Agri Noordwes. Hy vertel dat hy onlangs in gesprek was met lede van ’n swart gemeenskapstrust wat in ’n dispuut gewikkel was. “Daar was ’n groep wat gesê het as daar nie aan hul eise voldoen word nie, gaan hulle die veld afbrand. Hulle wag net dat dit droog genoeg word. In só ’n geval is almal in die gebied blootgestel, nie net diegene op die betrokke eiendom nie.”

In die hele Lejweleputswa-distriksmunisipaliteit, wat 14 Goudveldse dorpe insluit, is net een brandweerwa, sê mnr. Johan Terblanche, brandbeskermingsbeampte van die Goudveldse Brandbestrydingsvereniging (GBBV). “Ons moet ál meer in die dorpe ook vure blus omdat hier nie ’n brandweerwa is nie. Ons doen dit met ons eie toerusting wat teen ons eie koste aangeskaf is. Ons word nie gesubsidieer deur die staat nie, ons blus die staat se vure.”

Hy stem saam met Du Toit dat boere uitgelewer is aan brande wat opsetlik deur opstokers gestig word, soos verlede jaar by Hertzogville, asook weens Eskom se verouderde infrastruktuur en swak instandhouding van kragdrade. 

Welige gras skep brandgevaar

Omdat dit ’n goeie reënjaar was, het gras oral in die somerreënstreke welig gegroei en wanneer dit doodryp, sal daar baie brandbare materiaal wees. “Die veld en veral hoë gras langs die paaie hou ’n reuse-brandgevaar in,” waarsku dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder van Vrystaat Landbou. “Sanral het aangedui dat hul kontrakteurs eers vanaf 14 Mei die gras sal begin sny nadat dit behoorlik geryp het. Ons waarsku dus brandbeskermingverenigings om voorbereid te wees.”

Voorkoming en die regte voorbereidings is die wagwoord, sê Du Toit. Hy pleit dat boere trauma-versekering moet uitneem wat hul mediese behandeling dek in geval van brandwonde. “Daar was verlede jaar in ons provinsie die geval waar die gemeenskap inderhaas R500 0000 moes insamel net om iemand opgeneem te kry in ’n brand-eenheid. Ongelukkig het die man gesterf.”

Ook in die Noord-Kaap word die brandgevaar in die komende winteraande met kommer dopgehou, sê mnr. Nicol Jansen, voorsitter van Agri Noord-Kaap. “Veral dele van die Kalahari en Kuruman het baie goeie reën gehad. Die veld is toegegroei en ons is bedag daarop dat daar vanjaar ’n besonder groot brandrisiko is. Ons moedig boere aan om in hul plaaslike omgewing by brandverenigings betrokke te raak sodat ons mekaar kan bystaan en gekoördineerd optree.” 

Wetlike vereiste

Grondeienaars, wat boere, munisipaliteite, staatsdepartemente en selfs Eskom kan insluit, moet ingevolge die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande (Wet 101 van 1998) aan ’n geregistreerde veldbrandbeskermingsvereniging met ’n aangestelde brandbeskermingsbeampte behoort, verduidelik Du Toit. “Daardie verenigings is soms baie wanfunksioneel waar die leierskap nie uit boeregeledere kom nie. Maar as daardie struktuur korrek werk, kan dit grondeienaars aanspreeklik hou vir brandskade waar die brand sy oorsprong gehad het.”

Brande wat hul oorsprong in munisipale gebiede het, is toenemend ’n groot bedreiging vir die omliggende plase. “Hy begin klein by die dorp, maar as die boere die vuur kry, is hy groot,” sê Terblanche. Daarom sit boere maar hand by om byvoorbeeld brande by munisipale stortingsterreine so vinnig as moontlik te blus.

Die GBBV het onlangs ’n opleidingsdag gehou waar ’n wye verskeidenheid brandtoerusting gedemonstreer is. Terblanche het beklemtoon dat boere op hoogte van vernuwende idees moet bly. Só het dit nou noodsaaklik geword om brandblasers aan te skaf, wat bewys het dat dit vinniger en doeltreffender werk as om water met bakkies aan te ry. Terblanche sê dit raak ál noodsaakliker dat boere en brandverenigings ook groter toerusting en doelgemaakte voertuie vir onbegaanbare terreine moet aanskaf.