Só sê mnr. Paul Makube, senior ekonoom van FNB Agribesigheid, nadat aangekondig is dat 93 oktaan- en 95 oktaan-petrol van môre af onderskeidelik R18,11/liter en R18,30/liter sal kos. Die twee dieselgrade sal onderskeidelik R15,64/liter (500 DPM) en R15,66 (50 DPM) kos.

Volgens die Outomobiel-assosiasie (AA) is brandstof nou duurder as ooit te vore. Volgens die AA se webwerf is die prys van  95 oktaan petrol tans  R18,30 per liter in die binneland en R17,58 per liter aan die kus terwyl die prys van diesel R15,64 per liter in die binneland is en R15,02 aan die kus.

Hy verduidelik die verhoging word gesteun deur ’n styging van 4,4% op ’n maandgrondslag in Brent-ruoliepryse tot $74 per vat, asook ’n verdere verswakking van 1,4% van die rand teenoor die dollar tot R14,54 in Junie.

Makube sê die sukses van die landbouwaardeketting hang daarvan af dat brandstof op die regte tyd teen die regte prys beskikbaar is.

Die styging in die ruolieprys het volgens hom ’n impak op die koste van ingevoerde insette soos kunsmis, insek- en onkruiddoders weens die onlangse tekorte aan grondstowwe vir die vervaardiging van sekere kunsmis en hoër verskepingskoste.

“Oeste word tans vervoer na verskeie opbergingspersele reg oor Suid-Afrika en uitvoermarkte. Dus sal verdere prysverhogings ’n ongunstige impak op produsente se marges hê. Graanprodusente en logistieke maatskappye sal die pyn voel aangesien 80% van graan padlangs vervoer word.

“Die vee- en tuinboubedryf, met die sitrusbedryf se oesseisoen wat onlangs begin het, sal ook geraak word ten opsigte van verspreiding landwyd en as uitvoer. Toenemende kostedruk sal uiteindelik produsente se marges verwoes en moontlik ’n inflasiehoofpyn vir verbruikers tot gevolg hê.”

Intussen het die DA mnr. Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, versoek om die huidige model waarvolgens brandstofpryse bepaal word, te hersien.

Mnr. Kevin Mileham, DA-LP, sê die nuwe rekordprys is ’n ramp vir Suid-Afrikaanse gesinne aangesien so ’n prysverhoging struikelblokke vir arm Suid-Afrikaners verder vererger, terwyl hulle reeds gebuk gaan onder rekordhoë werkloosheidsvlakke en inkomste wat dieselfde bly of afneem.

“Die skerp styging in brandstofpryse sal ’n uitkringeffek hê aangesien voedselpryse en verbruikers se reiskoste sal toeneem. Die bedryfskoste van klein ondernemings kan ook styg.”