Dié raad kom van mnr. Marthinus Loock, senior landboubesigheidsbestuurder by Standard Bank, wat ’n styging in produksiekoste weens brandstofkoste voorspel. “ ’n Groter internasionale vraag na olie, stygende oliepryse, ’n swak rand-dollarwisselkoers, stygings in belasting, ’n rabatstelsel wat ondoeltreffend toegepas word, en stygende kunsmispryse skep ’n ‘perfekte storm’ wat koste opjaag wat boere moet absorbeer te midde van lae winsgrense.”

Hy sê verbeterde ekonomiese groei, veral in ontwikkelde Westerse lande, het die prys van Brent-ruolie sedert die begin van die jaar deurlopend laat styg. “In onlangse jare het ’n gunstige rand-dollarwisselkoers die invloed van stygende oliepryse teengewerk, maar tot dusver vanjaar het volgehoue groei in Amerika veroorsaak dat die rand aansienlik swakker vertoon.”

Loock wys daarop dat die R5,49/liter belasting op diesel beteken dat 35-40% van die dieselprys in Suid-Afrika nou uit belasting bestaan. Dit maak diesel aansienlik duurder as in buurlande. Verder gaan ’n verdere 10c/liter vir koolstofbelasting later ingestel word.

Die dieselrabat is veronderstel om verligting vir die landbousektor te bring, maar slegs diesel wat regstreeks vir voedselproduksie benut word, kom in aanmerking. Boere moet aanteken hoeveel diesel vir ploeg, plant en stroop benut word. Die brandstof om produkte na die mark te vervoer of vir verspreiding na verbruikers toe kom nie in aanmerking nie.

Hy sê die rabat is ook beperk tot die primêre landbou en die res van die waardeketting vind nie daarby baat nie. Daarom het dit ’n beperkte invloed op voedselinflasie.

Kunsmis

“Die grootste aandrywer van produksiekoste-inflasie is nie brandstof nie, maar kunsmis, wat ’n neweproduk in die raffineringsproses is.” Hy sê diesel het produksiekoste verlede jaar maar met 0,8% opgejaag, terwyl stygende kunsmispryse vir ’n 5,7%-styging in produksiekoste verantwoordelik was. Ureum se prys het in 2018 met 15% gestyg.

Om hierdie stygende produksiekoste te bestuur, stel hy voor boere moet kyk na vooruitkontrakte op Safex om diesel vir plant- of oestyd aan te koop. Dit kan boere help om die impak van skielike, kwaai stygings beter te bestuur. Die res van die waardeketting kan ook hierdie meganisme gebruik.

Verder moet boere nuwe tegnologieë en moderne toerusting benut om bewerkingskoste so laag moontlik te hou. Nuwe werktuie is gewoonlik kostedoeltreffender. “Met die aankoop van nuwe toerusting moet boere verder kyk as net die kapitaalkoste. Hulle moet ten nouste saam met vervaardigers werk om ’n omvattende meganisasieplan te ontwerp wat produksie kan verhoog, maar terselfdertyd brandstofverbruik en ander loopkoste verminder.”

Hy glo as hierdie twee bestuursinstrumente oor die hele landbou-waardeketting toegepas word, sal dit die invloed van stygende brandstofkoste op voedselinflasie in die breër ekonomie verminder.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.