Mnr. Dawie Maree, hoof van landbou-inligting en bemarking by FNB, sê tot dusver was die rand een van die grootste verloorders ten opsigte van ontwikkelende lande se geldeenhede in dié oorlog. Die rand se verswakking teenoor die dollar die afgelope paar maande, asook die styging in die internasionale olieprys, het sedert Mei ’n styging van R1,70 in die land se binnelandse dieselpryse tot gevolg gehad. 

20% en 31,6%

Brandstofpryse het in April vanjaar ook aansienlik gestyg weens die verhoging van die brandstofheffing. Die prys van diesel het in April met 65c gestyg. In Mei, Junie en Julie het dieselprysstygings van onderskeidelik 59c, 85c en 26c gevolg. “Dit beteken dat die prys van diesel sedert April met R2,35 gestyg het, wat ’n 20% styging binne vier maande is,” aldus Maree.

Volgens Maree styg insetkoste vir die landbou met R1 miljard per jaar vir elke styging van 1c in die dieselprys. Dié afgelope vier maande se prysstygings verteenwoordig dus ’n styging van R235 miljard in insetkoste op ’n jaargrondslag.

“As ’n mens die dieselpryse van Julie 2017 en Julie 2018 vergelyk, het dit met 31,6% gestyg, terwyl verbruikersinflasie maar op 4,5% staan,” aldus Maree.

Kom nog skokke?

Soos wat sake tans daar uitsien, verwag ekonome dat brandstofpryse nie nog skerp gaan styg nie, hoewel dit baie moeilik is om tans vooruit te beplan met die rand wat wisselvallig bly.

Maree sê met die internasionale olieprys wat tans op vlakke van $76 tot $77 per vat verhandel, kan die olieprys teen die einde van die jaar moontlik op sowat $70 per vat stabiliseer.

Die uitwerking van die plaaslike politieke en ekonomiese omgewing op die rand moet egter nie uit die oog verloor word nie. Maree sê namate Suid-Afrika se verkiesing aanstaande jaar nader kom, kan plaaslike faktore ook ’n impak op die wisselkoers en gevolglik brandstofpryse hê.