Die rand-dollar-wisselkoers het sedert verlede Vrydag na vlakke onder R14 begin versterk, na dit sedert 24 Desember tot R14,68 verswak en daarna wipplank gery het, sê mnr. Dawie Maree, hoof van landbou-inligting en -bemarking by FNB.

Sedert die begin van die maand het internasionale oliepryse rondom $57 (sowat R796) per vat verhandel. “As die rand onder die vlak van R14 kan verhandel en oliepryse op dieselfde vlakke bly, kan brandstofpryse volgende maand met sowat 50c per liter daal,” aldus Maree.

Die prys van brandstof het aan die begin van Januarie vir die tweede agtereenvolgende maand met meer as R1 per liter gedaal. Die Departement van Energie sê dié dalings is grootliks deur laer internasionale oliepryse gedryf.

Volgens Maree sal nog ’n daling nie ’n noemenswaardige verskil aan boere se insetkostes maak nie, aangesien min bewerking gedurende Februarie plaasvind. “Enige daling in insetkostes is egter natuurlik altyd welkom.”

“Nog ’n daling sal die land se inflasiekoersverwagtinge temper, wat weer rentekoerse positief kan beïnvloed,” sê Maree.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.