Mnr. Dawie Maree, hoof van landbou-inligting en -bemarking by FNB, sê hoewel verskeie faktore ’n impak op brandstofpryse kan hê, gaan veral drie faktore in die komende maande bepaal of Suid-Afrikaners meer of minder vir ’n liter diesel of petrol gaan betaal. 

Die eerste van dié faktore is die impak wat sanksies teen Iran op die wêreldmark kan hê en of die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (Opul) besluit om produksie verder in te perk. Luidens ’n berig op Oil.com het Iran se produksie van ruolie verlede maand met 154 000 vate per dag gedaal, terwyl Irak en Saoedi-Arabië se produksie met onderskeidelik 113 000 en 45 000 vate per dag gedaal het.

Luidens die berig het Opul-lidlande die afgelope tyd hul bes gedoen om produksie te verlaag as deel van pogings om oliepryse tot vlakke te verhoog wat vir dié organisasie aanvaarbaar is. Onsekerheid heers egter oor hoeveel Iran se produksie nog kan daal en die uitwerking wat dit op internasionale oliepryse kan hê.

Tekkie tref die teer 

Maree sê nog ’n faktor wat ’n groot impak op brandstofpryse gaan hê, is die besluite wat pres. Cyril Ramaphosa in die volgende paar weke rondom veral die kabinet gaan neem. “Die verkiesing is verby en dis nou die tyd dat die tekkie die teer tref en ons kan sien of die president gaan hou by sy onderneming dat die kabinet kleiner gaan wees en of hy by sy fiskale beleid gaan hou. Graderingsagentskappe gaan fyn kyk na die regering se besluite en dit sal die wisselkoers en gevolglik brandstofpryse beïnvloed.” 

Derdens gaan die handelsoorlog tussen China en Amerika ’n groot invloed op die wisselkoers en internasionale oliepryse hê, sê Maree.

Hy raai boere aan om planne te beraam wat vinnig aangepas kan word.

“Talle boere het reeds hul planne rondom dieselgebruik en -aankope begin beraam. Dis nie net belangrik om somme oor aankope te maak nie, maar ook om onder meer jou vloot van masjinerie en voertuie gereeld te laat versien en te onderhou om te verseker dat hulle optimaal werk en dus die beste vlakke van brandstofverbruik handhaaf.” 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.