Die twee verdagtes wat van die moord op Horner beskuldig word, is gister op borgtog van R5 000 elk vrygelaat na aanleiding van nuwe bewyse wat by die landdroshof in Senekal voorgelê is.

Horner, wat as ’n werktuigkundige op die Bloukruin-landgoed van mnr. Gilly Scheepers gewerk het, is die aand van sy moord by ’n plaashek ingewag en aangeval. Sy lyk is later vasgemaak aan ’n heiningpaal gevind. Mahlamba en Matlaletsa se voorverhoor sal op 23 Augustus in die hooggeregshof in Bloemfontein plaasvind.

Mnr. Francois Wilken, president van VL, versoek die polisie om te bepaal of daar nog uitstaande bewyse is wat die twee beskuldigdes en ander moontlike verdagtes met die moord verbind.

“Die slagoffer en hul families in dié moord – en so ook elke ander moord in Suid-Afrika – verdien die beste ondersoek in sulke sake. Ondersoeke deur die SAPD moet lei tot suksesvolle vervolging en vonnisoplegging in die howe en nie net besoeke en simpatiebetuiging aan familielede nie.”

Buys sê VL en die landbougemeenskap van Paul Roux meen dat die twee beskuldigdes nie alleen by die moord betrokke was nie. Dié inligting het deel gevorm van ’n dokument wat mnr. Herkie Viljoen, voorsitter van die Bethlehem-beheerkamer en plaaswag, in Oktober 2020 aan mnr. Bheki Cele, minister van polisie, oorhandig het met die versoek dat ’n taakspan daargestel word ten einde die moord en die georganiseerde aard van veediefstal te ondersoek.

Daar is ook versoek dat die moontlike betrokkenheid van polisielede by hierdie tipe misdade ondersoek word.

“Na wat verneem word, wil dit voorkom asof die taakspan maandeliks terugvoer aan die landbougemeenskap van Bethlehem en Paul Roux gee. VL is egter van mening dat daadwerklike stappe ontbreek om inhegtenisnemings en ’n deurbraak te bewerkstellig,” sê Buys.

Mnr. Henry Geldenhuys, president van die TLU SA, sê dié organisasie is ook ongelukkig dat borgtog aan die verdagtes toegestaan is. Hy voeg by dat die algemene publiek vertroue verloor het in die Suid-Afrikaanse regstelsel asook die polisie en dat politieke inmenging te gereeld plaasvind.