Volgens die teenstortingsbeweging FairPlay kan dit ’n bedreiging inhou as Europese markte vir Brittanje toegaan, indien Brittanje die Europese Unie (EU) sonder ’n ooreenkoms verlaat.

Britse hoenderprodusente sal dan ander bestemmings vir hul produkte soek.

FairPlay sê Suid-Afrika sal op sy hoede moet wees teen ’n “hernude vloed” van sogenoemde donker vleis, wat hoofsaaklik agterkwarte, boudjies en dye is waarvan Suid-Afrikaners baie hou.

In die Noordelike Halfrond verkies verbruikers wit borsvleis. Produsente verkoop dan die bruin vleis teen minder as die produksiekoste in ander lande.

“Baie van Brittanje se donker vleis gaan tans na EU-markte. As Brittanje sonder ’n onderhandelde uitgangsooreenkoms uit die EU tree, sal dié markte toemaak en Britse produsente sal na alternatiewe uitvoergeleenthede soek,” sê die organisasie.

Europese hoendervleis het tariefvrye toegang tot Suid-Afrika.

“Suid-Afrika moet verseker dat Brittanje nie net die onbeperkte tariefvrye toegang oorneem wat hy as EU-lid geniet het nie,” sê mnr. Francois Baird, FairPlay-stigter.

“Dié invoer maak werkgeleenthede dood. As deel van ’n onderhandelde, billike ooreenkoms behoort EU-uitvoer van bruin vleis beperk te word, of onderhewig te wees aan ’n ooreengekome kwota,” sê Baird.

Uitvoer

Brexit kan wel ook geleenthede inhou, soos die moontlikheid vir uitvoer van Suid-Afrikaanse hoendervleis na Brittanje.

FairPlay sê in teorie het Suid-Afrikaanse pluimveeprodusente onbeperkte toegang tot EU-markte.

“Omdat Suid-Afrika hoender goedkoper as enige EU-land produseer, behoort die EU ’n reuse-uitvoergeleentheid vir Suid-Afrika te wees. Tegniese beperkings word egter gebruik om EU-produsente teen Suid-Afrikaanse mededinging te beskerm.”

FairPlay sê ’n regstreekse handelsooreenkoms met Brittanje behoort dié mark vir Suid-Afrika te kan ontsluit, indien billiker toegang beding kan word.

“Suid-Afrika behoort daarna te kyk om ’n ooreenkoms met Brittanje te beding wat verseker dat sanitêre en fitosanitêre vereistes nie onregverdig gebruik word om Suid-Afrikaanse hoendervleis uit Britse winkels te hou nie,” sê Baird.

“Dit sal die werkers in die plaaslike pluimveebedryf iets gee om te vier. Veral borsvleis verkoop teen ’n premie en Suid-Afrika kan dit teen mededingende pryse lewer.”

Dit kan volgens Baird nuwe werkgeleenthede beteken en ook hoop bring vir gemeenskappe wat benadeel is “deur byna ’n dekade van verwoestende, roofsugtige invoer”.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.