Brimstone, wat belange het in onder meer die Oceana-groep, Sea Harvest en Life Healthcare, sou ’n 15%-belang in die Milco SA-konsortium opgeneem het. Hy het egter op Vrydag 12 April in ’n verklaring op die JSE se Sens-nuusdiens sy beoogde onttrekking aan die konsortium bekend gemaak.

Die maatskappy het reeds vroeër vanjaar sy deelname aan die konsortium heroorweeg nadat Boycott Divestment Sanctions South Africa (BDS) met boikotte teen Clover gedreig het weens Milco se Israelse bande. BDS, ’n pro-Palestynse groep, het ’n paar jaar gelede boikotte en betogings teen Woolworths georganiseer omdat die winkelgroep produkte uit Israel verkoop.

Milco Mauritius International Limited, ’n Mauritiaanse houermaatskappy, sal met 78,7% die grootste aandeelhouer in Milco SA wees. Dié houermaatskappy sal bestaan uit International Beer Breweries Limited (IBBL), met ’n belang van 59,5%, IncuBev Limited met 8,3% en Ploughshare Investments Limited met 10,9%.

IBBL is ’n filiaal van Central Bottling Company (CBC), wat Israel se voorste vervaardiger en verspreider van koeldranke is. CBC besit ook Tara, Israel se tweede grootste melkverwerker.

Clover se uitvoerende bestuur sal die oorblywende belang van 6,3% in Milco SA hê.

Brimstone sê hy het op 11 April ’n ooreenkoms met Milco SA en IBBL aangegaan om sy onttrekking moontlik te maak. Kragtens die ooreenkoms sal IBBL of sy geaffilieerde ondernemings Brimstone se belang in Milco SA op 31 Desember koop indien Brimstone nie teen daardie datum ’n geskikte swartbemagtigingsbelegger kon vind om hom te vervang nie.

Brimstone sê hy het reeds gevorderde onderhandelinge met ’n moontlike geskikte swartbemagtigingsbelegger gevoer. As dit suksesvol is, kan dit daartoe lei dat hy hom voor 31 Desember ten volle aan die konsortium onttrek.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.