Geweld het voorgekom nadat die gemeenskap met die polisie haaks geraak het nadat twee wildplaaseienaars op Dinsdag 14 November op borgtog vrygelaat is. Hulle word daarvan aangekla dat hulle ’n 9-jarige meisie op hul plaas aan ’n boom vasgebind, aangerand en skote na haar geskiet het.

Luidens ’n berig op News24 is haar broer en ma ook geskiet. 

Die polisie het glo rubberkoeëls afgevuur op die omgekrapte gemeenskapslede wat protes aangeteken het nadat mnre. Johannes Potgieter (33) en Hendricks Dumas (48) op borgtog vrygelaat is.

Mnr. Louis Meintjes, voorsitter van TLU SA, wat in daardie omgewing boer, sê hulle het gister in ’n WhatsApp-groep ’n waarskuwing ontvang dat ’n protesaksie vir vandag by die hof beplan word en dat die EFF daarby betrokke is. Hulle is aangeraai om weg te bly uit die dorp.

Onwettige jag met honde

Hy sê hoewel hy die twee beskuldigdes nie ken nie, het hy verneem dat hulle die eienaars van ’n wildsplaas is wat gereeld deurloop onder jeugdiges wat onwettig met honde op die plaas kom jag. Hulle het glo na bewering op die honde geskiet, die kinders probeer aankeer en een gevang.

“ ’n Mens sal moet wag vir die hofsaak om die feite te hoor en as die boere oortree het, kan ’n mens dit nie goedpraat nie. As die onwettige jagtery egter gereeld voorgekom het en dit aangemeld is, sou ’n mens kon verwag dat die polisie moes opgetree en dit beëindig het. In só ’n geval sou ’n situasie soos hierdie voorkom kon word.”

Meintjes sê hy hoor die hofsaak is heeltemal ontwrig en dat winkels op die dorp geplunder is. Die polisie het skokgranate en rubberkoeëls afgevuur. Die saak is tot volgende jaar vir verhoor in die Noord-Gautengse Hooggeregshof uitgestel.