Na aanleiding van kommunikasie met boere, die Suid-Afrikaanse bewaringsdirektoraat van die departement van landbou en owerhede in Namibië kan die uitbreking vandag bevestig word, sê dr. Gerhard Verdoorn, gifkenner gemoeid met CropLife SA.

Hy het gister aan Landbou.com gesê boere in veral die Karoo word gevra om waaksaam te wees en om enige uitbreking dadelik aan te meld. Luidens ’n verklaring is die uitbreking van sprinkane in die distrik van De Aar bevestig.

“Dié uitbreking kan glad nie verbind word met die massiewe uitbreking van die woestynsprinkane in Oos-Afrika nie,” lui die verklaring.

Die bruinsprinkaan kan ’n groot plaag word wanneer daar sporadiese uitbrekings is. Die uitbrekings hang gewoonlik saam met klimaatstoestande. Die uitbrekings kom gewoonlik in die suide van Namibië, in die middel van Botswana en in die Karoo voor.

Volgens Croplife SA is ses plaagdoders in Suid-Afrika geregistreer om bruinsprinkane te bekamp. “Die regte hoeveelhede geregistreerde plaagdoders vir ’n krisis is reeds in die (direktoraat se) hoofsprinkaandepot op De Aar beskikbaar.”

Croplife SA sê hy is vol vertroue dat die direktoraat die bruinsprinkane op die gepaste ekologiese manier kan bestry.

Boere en lede van die publiek wat sprinkaanaktiwiteit gewaar, word versoek om aan Verdoorn ’n WhatsApp met besonderhede saam met ’n foto van die sprinkane by 082 446 8946 te stuur. Die hulpbronbewaringsentrums op De Aar en Upington moet ook in kennis gestel word.

“Gegrond op die bogenoemde word alle partye gevra om paraat te wees, maar ook om kalm te bly, aangesien ons glo dat die sprinkaanbeheerspanne die nodige hulpbronne het om tydig op die uitbreking in die Karoo te reageer,” sê Croplife SA.