Mnr. Chris Schutte, uitvoerende hoof, sê in die lig van die Regering se onlangse verhoging van die BTW-koers vanaf 14% tot 15%, die eerste verandering in 25 jaar, is dit dalk nou ’n goeie tyd om ook die mandjie te hersien.

“Die verbruikerlandskap het baie verander. Hoender, as die goedkoopste bron van vleisproteïen in Suid-Afrika, is nou ’n groot deel van die basiese dieet van die Suid-Afrikaanse bevolking. Die gemiddelde verbruik is nagenoeg 40 kg/persoon/jaar,” sê Schutte in ’n verklaring.

“Die feit dat hoender nie op Tesourie se lys van basiese voedselprodukte is waarop ’n nulkoers BTW gehef word nie, is aanvegbaar, veral omdat hoenderverbruik verreweg die verbruik van enige ander vleis as proteïenbron oortref.”

Schutte verwag dat die verhoging in die BTW-koers verbruikers en voedselkoste gaan benadeel, hoewel elke burger se reg tot een gesonde maaltyd per dag in die Wet op die Menseregtekommissie (Wet 54 van 1994) vervat is.

“Astral sal enige bespreking oor die herevaluering van die mandjie ondersteun omdat ons glo hoender bied waarde wat as ’n belangrike, voedsame toevoeging tot maaltye toegankliker vir die breë bevolking moet wees.

“Uit ’n voedingswaarde-oogpunt is hoender ’n kostemededingende en voordelige hoenderproteïenbron.

“Astral glo ’n nulkoers BTW moet op hoender gehef word, soos op blikkiesvis.”

Astral het in ’n lessenaarstudie gevind dat 100 g van sekere hoendersnitte meer proteïen en energie bied as die ekwivalente porsie van sekere blikkiesvis.

“Ons vra nie dat blikkiesvis uit die mandjie van basiese voedselprodukte uitgehaal word nie, maar ons glo dit was lankal tyd vir ’n hersiening van die mandjie en dat hoender ingesluit moet word,” sê hy.

Teen die agtergrond van rekordhoë werkloosheidsyfers kan hoender in dié mandjie tot verbruikers se voordeel wees sonder dat dit die hoenderbedryf skade sal berokken.

Astral sal enige sodanige stappe ondersteun en daaraan deelneem, sê Schutte.