Dit sal ’n bydrae lewer in die stryd teen wanvoeding én stygende armoedvlakke teenwerk, meen die teenstortingsbeweging Fairplay.

Verskeie organisasies het insette by die Parlement se staande komitee op finansies gelewer oor watter kosprodukte deel van die BTW-vrye lys moet wees.

’n Paneel is gelas om ’n lys goedere saam te stel wat druk op die verbruiker kan verlig, nadat die BTW-koers in April verhoog is.

Kosprodukte wat volgens die paneel moontlik op die lys moet wees, is witbrood, witmeel en koekmeel.

Fairplay, die vakverbond Cosatu, die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) en die Instituut van Ekonomiese Geregtigheid was van die organisasies wat die insluiting van hoendervleis voorgestel het.

Mnr. Lionel Adendorf, woordvoerder van Fairplay, het gesê dat hoendervleis die voorkeurproteïen van baie armes is en dat wanvoeding voorkom kan word deur die produk van BTW vry te stel.

Adendorf het gesê daar is dinge in die BTW-vrye kosmandjie is wat liefs uitgelaat kan word, soos die “R1 miljard se sardyne wat ingevoer word” en geen voordele vir die fiskus bied nie. Hy het ’n volledige hersiening van die mandjie voorgestel.

Die SAPV het hom op sy beurt daartoe verbind dat enige besparing vanweë belastingvrye hoendervleis wat die bedryf sal ervaar, aan die verbruiker oorgedra sal word. ’n Prysdaling sal meebring dat die vraag na die produk met 7,8% sal styg, wat 11 000 werksgeleenthede kan skep.

Cosatu het gevra dat plaaslik geproduseerde hoendervleis ingesluit moet word en dat belasting vir luukse produkte ingestel moet word.

Die finale lys van BTW-vrye goedere sal later deur die Minister van Finansies bekend gemaak word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.