Die hoogste prys nóg is die afgelope naweek op ’n veiling in Limpopo vir ’n buffelbul betaal. Dié bul, met ’n horingwydte van 51 duim en ’n horingskilde van 16 duim, is vir R26 miljoen verkoop. Die veiling het op 1 September in Bela-Bela plaasgevind.
 
Luidens ’n verklaring is die bul aan mnr. Pieter du Toit en twee medeboere in die distrik Rustenburg verkoop. Die bul is deur mnr. Jacques Malan en sy vrou, Carolien, op die plaas Lumarie naby die dorp geteel.
 
Vertroue
Malan meen dié nuwe rekordprys sal vertroue in die wildbedryf bevestig. Die bedryf dra jaarliks sowat R10 miljard tot die land se ekonomie by.
 
“Malan, van die bekende Malanseuns-kwekery, meen dat bulle soos hierdie een sal bydra om weer sulke bosreuse in die natuur terug te plaas waar hulle baie jare gelede feitlik uitgejag is,” lui die verklaring.
 
Die vorige rekordprys vir ’n buffel is vroeër vanjaar behaal toe mnr. Jaco Troskie, seun van die rolprentmiljoenêr, Boet Troskie, R20 miljoen vir ’n buffelkoei en haar kalf betaal het. Dié transaksie het op ’n veiling in Rustenburg plaasgevind.