Soveel so dat sy foto nou tussen dié van die skoulegendes teen die muur van die boeresaal op Gobabis se skouterrein pryk. En nie sommer enige plek nie, maar heel bo! 

Dié 9-jarige hond volg sy baas, mnr. Bertus Walters van Windhoek, oral. Hy gaan veral graag saam na skoue waar Bertus en sy seun, Dewald, gereeld met hul Walsim-Simmentalers skou.

Die Gobabis-skougenootskap het besluit Buks het nou legendestatus en het sy foto op ’n spesiale seremonie onthul. Bertus vertel die verering van sy lieflinghond was ’n groot verrassing. Hy het weer aan vanjaar se Gobabisskou deelgeneem. Die eerste aand was daar ’n geselligheid in die saal. Toe word Bertus na vore geroep met die opdrag om vir Buks saam te bring. Hy het al vroeër die aand opgemerk daar is ’n doek bo-aan die lang ry foto’s van mans wat al die leisels van die skou gehou het, maar hy het hom nie veel daaraan gesteur nie.

Hy kry toe die opdrag om die doek weg te trek. En, siedaar, daar pryk Buks se foto teen die muur! 

“Dit was ’n groot verrassing en ek was nogal aangedaan,” sê Bertus.

Buks is ook al ’n legende op Windhoek se skou waar almal die hondjie ken. Buks volg sy baas slaafs. As hy aan die slaap raak onder Bertus se stoel langs die beoordelaarsring, en Bertus loop iewers heen, sal hy oral gaan soek wanneer hy wakker word. Hy weet al waarheen Bertus gewoonlik gaan. Dan kry hy hom gou.

Een keer het Bertus van die Gobabisskou weggery. Hulle was nog nie ver nie toe hulle agterkom Buks is nie in die bakkienie. Hy het teruggery en Buks in die middel van die beoordelaarsring aangetref waar hy geduldig vir sy baas gesit en wag het.

Die band is uiteraard baie sterk tussen baas en hond en Buks steur hom nie aan ander mense nie. Gewoonlik hou honde van enige mens se aandag, maar nie Buks nie. Hy kyk nie eens na iemand anders nie, maar het net oë vir Bertus. Uiteraard word hy baie bederf en op skoue eet hy net biefstuk. As hy dikgevreet is, gaan begrawe hy die vleis. Die volgende jaar grawe hy oral op soek na sy “padkos”. 

Bertus is ’n versekeringsmakelaar in Windhoek, maar sy plaas is by Witvlei. Soggens wanneer Bertus aantrek, kom ruik Buks aan sy broek. As hy ’n plaas-beesgeur kry, weet hy hulle gaan plaas toe en dan is hy rasend van opgewondenheid. As Bertus egter ’n werksbroek aantrek (sonder die welkome geur), weet hy hulle gaan vandag nie plaas toe nie. Dan gaan lê hy weer en sluimer totdat Bertus die middag van die werk af kom.