“Ek kan deesdae 60 ouens bel en sê dit gaan nie vandag goed met my nie, terwyl ek in die verlede dalk twee ouens kon bel,” sê mnr. Christo Snyman, voorsitter van die Bultfontein-bewusmakingskomitee.

“My buurman is Helgard Smit. Ek het hom nie eens baie goed geken voor ons saam in die bewusmakingskomitee gedien het nie. Maar hy het in Februarie vir my sonneblomme geplant sonder dat ek dit eens geweet het. Vandag deel ons mekaar se swaarkry soos broers.”

Die aksiegroep is in Augustus verlede jaar gestig om die humanitêre nood van boere, wat vier jaar laas ’n inkomste verdien het, te verlig en planne te beraam hoe daar sonder produksiekrediet steeds geplant kan word. Hulle het dag en nag sowat 27 000 ha beplant voor daar uiteindelik in Februarie genoeg reën geval het.

Dit is deels moontlik gemaak deur saadskenkings, onder meer R3 miljoen se sonneblomsaad van Pioneer, ’n dieselskenking van R700 000 deur John Deere, asook verskeie ander landboumaatskappye wat uitstel van betaling gegee of insette geskenk het.

werkers beangs

Omdat talle boere nie meer trekkers of ander landboutoerusting gehad het nie, het die groep ’n bewerkingskomitee onder leiding van Smit gestig, wat ’n opname gedoen het oor waar trekkers, rolêe en plan- ters benodig word. ’n Strategie is toe uitgewerk om die beskikbare werktuie onder mekaar te verdeel.

’n Humanitêre komitee het ’n paar huisgesinne geïdentifiseer waar daar ’n gebrek aan kos was. “Ons sorg vir hulle. Ons het heelwat skenkings gekry waarvoor ons baie dankbaar is. Ons kan dit helaas nie onbepaald volhou nie. Die doel van die bewusmakingsgroep is juis om hierdie boere te help om so gou moontlik weer op hul eie voete te staan,” sê Snyman.

Groot onsekerheid heers ook oor die lot van plaaswerkers en hul gesinne. Honderde het reeds hul werk verloor, en Snyman kan nie werkers, van wie sommige reeds 40 jaar op die plaas werk, se vrae oor die toekoms beantwoord nie. Van die werkers het dag en nag saam met die bewerkingskomitee gewerk om die oes in die grond te kry. “As die grond verkoop word, het hulle ook nie meer ’n toekoms nie. Jy kan die angs in hul oë sien, en die onsekerheid oor waarheen hulle sal gaan.”

KONSOLIDASIE

Een van die sakeplanne wat die bewusmakingsgroep aan skuldeisers wil voorlê, is om boerderye saam te smelt om groter ekonomiese eenhede te skep. Hulle werk saam met dr. Jaco de Villiers van Hennenman, wat sy hulp gratis aanbied om sakeplanne op te stel.

“Waar ’n boer dalk ’n trekker van R7 miljoen moet koop, gaan sewe boere dit nou saam koop. Daar gaan meer risikoverspreiding wees as ons saam boer,” sê Snyman. Hy glo boerderye wat tans weens die droogtekrisis kwyn, speel ’n ankerrol op die platteland. Megaboere het die kapitaal om hul boerdery te meganiseer, maar ons mediumgrootte boere gee nog altyd werk en kos aan ’n klomp huisgesinne.”

Intussen samel die bewusmakingskomitee geld in vir ’n moontlike groepsgeding om banke en die regering te dwing om saam met boere die finansiële risiko’s van droogte te dra. “Dié krisis raak nie net Bultfontein nie. Bultfontein is die voorloper vir wat elders ook gaan gebeur.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.