Die skenking is een van verskeie wat onlangs deur landboumaatskappye gedoen is om dié saaiboere, wat nie meer produksiekrediet kan kry nie, te help oorleef.

Boere hier is finansieel op hul knieë ná vier agtereenvolgende moeilike jare wat deur droogte en lae graanpryse gekenmerk is.

Taylor vertel John Deere het die skenking aan Burre Burger se projek Droogtehulp met Burre Burger gedoen met die versoek dat elke sent wat die maatskappy bydra, by die boere moet uitkom.

“Hier kan ek vir Burre en Droogtehulp die erkenning gee dat selfs meer as wat ons skenking was, vandag hier aan die boere beskikbaar gestel is,” het Taylor met die oorhandiging aan Landbouweekblad gesê.

Wye gebied beïnvloed

Hy sê omdat hy self in die landbou-omgewing is, voel hy dieselfde pyn van die droogte.

Mnr. Jacques Taylor, besturende direkteur van John Deere Financial in Afrika suid van die Sahara, bemoedig boere in ’n toespraak tydens die oorhandiging van diesel wat deur die maatskappy geskenk is. Agter hom sit mnre. Christo Snyman en Willie Fourie, boere van Bultfontein. Foto: Esmarie Booysen

“Ons weet ook die droogte is nie net in Bultfontein nie. Naburige dorpe, in Noordwes, die Karoo, ons dink aan al daardie mense.”

Op sy beurt het Burger vertel Bultfonteinse boere het twee jaar gelede vragte voer Vredendal toe gestuur vir droogtegeteisterde Wes-Kaapse boere.

“Dié projek van my het eintlik begin met die eerste voer van Bultfontein. Die ouens hier het saamgestaan en begin help. Daarom het ons besluit ons moet terugkom en help met skenkings soos saad, diesel en ander insette. Al die gereedskap is nou daar om te plant. Nou moet die reën net kom.”

Danksy skenkings van diesel en sonneblomsaad kan enkele opkomende boere van Bultfontein begin plant die oomblik as dit reën. Van links is mnre. Jacques Taylor, besturende direkteur van John Deere Financial in Afrika suid van die Sahara, Albert Molefi van Bultfontein en Burre Burger, sameroeper van die hulpprojek Droogtehulp met Burre Burger. Foto: Esmarie Booysen

Maar die reën bly steeds weg en die meeste boere hier kon nog nie eens die sonneblomsaad plant wat Pioneer aan die begin van Desember aan hulle geskenk het nie. Ook in die res van die Wes-Vrystaat is die reën skaars, terwyl opeenvolgende hittegolwe die hoop op ’n goeie somergraanoes verskroei.

Skenkings is ook gedoen deur Mbfi, ’n verskaffer van biologiese swamdoder vir gebruik op saad en misstof wat saailing tydens ontkieming ’n hupstoot gee, asook deur Klein Karoo Saad Bemarking (K2 Saad) wat koring- en weimieliesaad geskenk het.

Sowat 40 boere

Sowat 40 boere het by die Bultfonteinse bewusmakingskomitee om hulp aangeklop, sê mnr. Coenie Fourie, lid van die komitee wat plaaslike boere se nood probeer verlig. Hy is een van die boere wat gevaar staan om sy plaas te verloor.

“Die hulpprogram is uit die boere vir die boere. Drie kommunale boere en een opkomende boer is ook deel van die hulpplan. Dis vir ons belangrik om hulle as vennote te betrek, veral met die oog op volhoubare voedselverskaffing.”

Op sy beurt het mnr. Albert Molefi, ’n kommunale boer wat met beeste en skape boer, gesê die nood is uiters hoog onder kommunale boere. “Ons het nie meer water of weiding nie en ons weet nie waar sal ons heen met ons vee nie.”

Hy wil die sonneblomsaad wat hy ontvang het, op ’n deelsaaigrondslag plant met die hulp van Fourie.

Werkers

Oor die humanitêre krisis op plase in die Bultfontein-distrik, sê Fourie dit vererger by die dag.

“Baie van ons het nie meer geld om byvoorbeeld ons kragrekenings te betaal of om selfs lone te betaal nie. Ons sit in ’n situasie waar ons begin gebrek ly en so ook ons werkers. Ons is uiters bekommerd oor hul lot, want hulle is ons medewerkers as dit goed gaan en ons moet na hulle omsien ook as dit sleg gaan.”

Hy sê heelwat boere kan ook nie meer hul kinders se skool- of universiteitsgeld betaal nie.

“Die gebrek wat ons nou ly, gaan veroorsaak dat kinders nie die nodige opleiding gaan kry nie en dit bekommer ons.”

Boere wat deel van die hulpprogram is, sê toestande op die plase gaan by die dag agteruit.

“Die gras in ons weivelde is nou so bros dat die wind dit wegwaai, terwyl die beeste se pote skade aan die veld doen,” sê mnr. Nico Buys van die plaas Milne.

Mnr Coenie Fourie, lid van die Bultfontein-bewusmakingskomitee, oorhandig ’n trofee as blyk van waardering aan mnr. Duard Bruwer van Mbfi wat biologiese swamdoder en misstof vir saad geskenk het. Foto: Esmarie Booysen

Volgens mnr. Piet Vermaak, ‘n plaaslike boer en saadagent, gaan dit ook op die dorp broekskeur. “Mense trek weg agter werk aan, daar is waterskaarste en die water van boorgate wat nog pomp, is baie brak. Dit kan byvoorbeeld nie vir groente of vrugte- en neutbome gebruik word nie.”

Hoewel daar boere is wat nog suikerbone of sonneblom plant, het talle boere besluit om eerder hul lande te laat oorlê as om in sulke riskante weersomstandighede te plant.

Onkruiddoder

“Maar as dit so droog is, dan werk onkruiddoder nie doeltreffend nie, dus moet die onkruid in die oorlêlande meganies verwyder word, wat ook duur is.”

Ondanks die terugslae en kommer oor hul toekoms het verskeie boere dit beklemtoon dat hulle uiters dankbaar is vir elke stukkie hulp en meegevoel wat hulle ontvang. Hulle weier om tou op te gooi.

“Dis hoekom ons so baklei vir Bultfontein – dis vir ons jong mense. Ons kan hierdie toekoms nie laat verlore raak nie,” het mnr. Christo Snyman, voorsitter van die bewusmakingskomitee, gesê.

Bultfonteinse boere glimlag dankbaar oor die dieselhulp wat hulle van John Deere SA via Droogtehulp met Burre Burger ontvang het. Van links is mnre. Smahlesile Tshabalala, Eddie du Plooy, Zulu Jackson, Willie Fourie en Wynand Bezuidenhout. Foto: Esmarie Booysen

Op sy beurt het Taylor boere aangemoedig om uit te reik na mekaar en saam te staan.

“Die kern van my boodskap vandag vir die boere is dat ons moet saamstaan: as ’n sektor, as ’n bedryf, as georganiseerde landbou, die produsente self. Dis nie nou tyd om verdeeldheid te saai nie. Tweedens moet die produsent hom nou omring met sy vennote. Hy moet sy vennote baie naby aan hom hou. En aan die waardeketting is my boodskap aan inset- sowel as uitsetkant: Ondersteun nou die produsent. As ons dit nie nou doen nie, gaan dit ons landbou-volhoubaarheid op medium- tot lang termyn benadeel.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.