Me. Sisi Ntombela, die Vrystaatse premier, het gister aanbiedings oor die droogtetoestand by Bultfontein bygewoon. Sy het ’n vergadering op die dorp bygewoon waar verskeie belanghebbendes haar oor die benarde geldelike posisie van die gebied se saaiboere ingelig het.

Ntombela het ná die vergadering gesê sy het ’n komitee in die premier se kantoor gestig met kundiges wat kan raad gee oor die beste manier om droogtehulp te gee. Sy sal die benarde situasie met pres. Cyril Ramaphosa aanroer wanneer hy die provinsie einde Maart besoek. Sy het boere gevra om moed te hou en te weet die provinsiale regering sal alles in sy vermoë doen om te help.

Mnr. Herman Meiring, voorsitter van die distriksboere-unie Bultfontein en sameroeper van die vergadering, sê die reën van die afgelope maand het boere optimisties gestem. Dié boere wat somergewasse betyds kon plant, en veeboere is verheug oor die grondvog wat die gewasse en weiding ’n hupstoot sal gee.In die gebied wes van Bloemfontein het mnr. Joggie Ackerman van die plaas Hartebeeshoek, Bainsvlei, vandeesweek sowat 25 mm reën aangeteken. Ssaam met die 60 mm van verlede week sal dit sy gebied se gewasverbouing goed ondersteun.

Hy en sy span het selfs op Sondae gewerk om al hul beoogde mielieaanplantings afgehandel te kry. Benewens die windskade aan gewasse vroeër die seisoen het Ackerman en sy bure het nie groot stormskade ondervind nie.Suid van Bloemfontein, waar ’n kitsvloed groot skade aan winkels en huise aangerig het, het veeboere goeie reënneerslae aangeteken. Mnr. Charl Hertzog, van die plaas Meriba op die Jagersfonteinpad, het die afgelope twee weke 55 mm aangeteken.

Die res van die Vrystaat

Boere in die res van die provinsie het ook met groot dankbaarheid berig oor die uitkoms wat die afgelope week se reën gebring het. Mnr. Hentie Helm, wat tussen Hoopstad en Bultfontein boer, sê dit het sedert verlede Vrydag reeds sowat 100 mm gereën en die veld word reeds groener. “Maar daar staan nie water in die lande nie, dit sak dadelik in die droë grond weg.”

Sy buurman, mnr. Albertus Brink van die plaas Veekraal, sê hy het in Januarie mielies geplant, maar net sowat 40% van die beoogde aanplantings. Daarmee saam het hy somerdekgewasse geplant wat nie so mooi opgekom het nie. “Dit is baie laat vir ons distrik om eers in Januarie te plant. Hoewel ons mielies sal groei, is die opbrengspotensiaal beslis laer.”

reën, Vrystaat,
2. Plasse water staan oral in die Vrystaatse weivelde ná die afgelope week se goeie reën. Sedert die begin van die week is van 60 mm tot 100 mm oor die provinsie heen gemeet met reën wat Vrydag steeds wyd val. Foto: Vida Booysen
reën, Vrystaat,
3. Reënwolke pak saam oor die Vrystaatse vlaktes waar buie sedert die begin van die week wydverspreid geval het en steeds val. Foto: Vida Booysen

Mnr. Cobus van Coller van die plaas Libanon in die distrik Viljoenskroon sê daar het vandeesweek reeds sowat 70 mm geval. “By ons is dit lekker deurnat en ons sal nou ’n ent tot in die winter kan aangaan met hierdie goeie neerslag.” Hy sê in die streek waar hy boer, is tot 60% van die mielies eers in Januarie aangeplant. Min sojabone en sonneblom is aangeplant. Die sonneblom wat vroeg in Januarie aangeplant is, het weens droogte nie mooi ontkiem nie. “Danksy die afgelope week se mooi reën het die mielies, wat begin droogtestremming wys het, mooi reggekom.”

In die Suid-Vrystaat naby Jagersfontein het daar die afgelope week reeds 90 mm geval, sê mnr. Bokkie Kotzé van die plaas Nooitgedacht. “Netnou het hier weer ’n bui van tot 30 mm uitgesak, ons is só dankbaar.”

Op die plaas Vaalbank naby Frankfort het mnr. Jaco Hattingh die afgelope week 60 mm gemeet. “Dis lekker nat hier. Die beste is dat dit sagte, deurdringende reën was.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.