Mnr. André Janse van Rensburg, Vrystaat Landbou (VL) se streeksverteenwoordiger in die distrik, sê die ongeveer 400 seisoenwerkers in die distrik het hierdie planttyd sowat ’n kwart of selfs ’n derde minder werksure gehad as gevolg van beperkte aanplantings. Hulle het dus ’n fraksie van hul normale inkomste verdien, wat hulself en hul afhanklikes in ’n benarde posisie plaas.

“Die besighede in die dorp se omset het in gevalle met 60% of meer gedaal, wat werksverliese en verminderde ure vir hul werkers beteken.”

Hy sê die totale ekonomie van die distrik Bultfontein is in gedrang. Vier jong boere het reeds familieboerderye verlaat om in die stede te gaan werk soek. “Sosiaal-ekonomies is dit ’n ramp met diefstal wat die hoogte in skiet soos mense probeer oorleef. Dit plaas boere onder verdere druk.”

Janse van Rensburg sê egter die veelvoudige probleme wat die droogte veroorsaak, gaan nie boere in Bultfontein se passie vir boerdery laat opdroog nie. “Ons sal alles in ons vermoë doen om met behulp van genade deur hierdie moeilike tyd te kom, maar ons gaan hulp nodig hê vanuit alle oorde om staande te bly. Ons glo dat die Vader ons die reën op die regte tyd sal gee en ons in die lewe sal hou om weer te kan produseer en te kan voorsien in die land se behoeftes.”

Rampgebied

Dr. Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaat, het verlede week ’n skriftelike versoek tot me. Sisi Ntombela, die Vrystaatse premier, en dr. Benny Malakoane, die Vrystaatse LUR vir landbou en landelike ontwikkeling, gerig om die provinsie tot ’n rampgebied te verklaar.

In sy versoek verwys hy onder na meer saai- en veeboere in die provinsie se benarde finansiële situasie. Hy brei ook uit oor die krisis waarin graanboere gedompel word. Verder wys hy ook boere se verlies aan inkomste weens veediefstal uit.

Hy skryf dat die droogte en die finansiële krisis in die landbousektor kan lei tot ’n voedseltekort – nie net in die provinsie nie, maar ook in die res van die land. “Ons landelike ekonomieë is afhanklik van die landbousektor. Landboubesighede op plattelandse dorpe maak op boere staat vir ’n inkomste. Ons versoek dus dat die provinsiale regering die Vrystaat of ten minste gedeeltes daarvan tot rampgebied verklaar om bykomende hulpbronne beskikbaar te stel aan diegene in nood.”

Dit is noodsaaklik dat droogtehulp aan die boere verskaf moet word aangesien boere se kredietreserwes uitgeput is, sê dr. Jack Armour, bedryfsbestuurder by VL. Hy sê as gevolg van bepalings in die Nasionale Kredietwet (Wet 34 van 2005) sal finansiers nie meer finansiële hulp aan boere kan verskaf nie.

“Ons as die landsektor gaan dringend planne moet maak om bekostigbare kos nog op die tafel te kan sit vir die verbruiker, asook om ’n gesonde verspreiding van klein tot groot boere te hê om werkskepping te bevorder en plattelandse dorpe aan die gang te hou. Dit is ook nie gesond vir die sektor dat groter, gevestigde boere die kleiner boere, wat weens voortdurende natuurrampe ondergegaan het, uitkoop nie.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.