“Ons word voortdurend deur instellings gedreig. Hulle stel voortdurend eise waaraan boere in hierdie omstandighede nie kan voldoen nie,” sê mnr. Christo Snyman, voorsitter van die Bultfonteinse Bewusmakingskomitee, wat in Augustus 2018 gestig is om boere in dié distrik wat humanitêre nood beleef, te probeer help.

Dié distrik se krisis het ontstaan deurdat droogtetoestande oeste in vier van die afgelope vyf jaar laat misluk het. Die langdurige droogte en dalende graanpryse het daartoe bygedra dat banke en ander kredietverskaffers nie meer kans sien om nóg krediet aan boere toe te staan nie. Hulle eis nou dat boere hul grond verkoop om die reeds bestaande skuld te delg. Omdat grondpryse in dié distrik gedaal het, sal sommige boere selfs ná die verkoop van hul grond nie al hul skuld kan delg nie. Banke begin nou beslag lê op landboutoerusting en ander bates.

In die afgelope week is die trust van ’n boer van Hoopstad, mnr. Sarel van der Walt, in die Vrystaatse hooggeregshof deur FNB voorlopig bankrot laat verklaar weens skuld van R16 miljoen. Volgens Volksblad skuld Van der Walt se sakeryk die bank meer as R100 miljoen.

Volgens opnames deur Vrystaat Landbou (VL) is sowat 60% van die boere in die distrikte Bultfontein en Hoopstad in geldelike moeilikheid.

Gedeelde risiko

Snyman wou nog nie besonderhede van die klasaksie bekend maak, soos watter banke as respondente gedagvaar sal word nie, maar hy sê inligtingsvergaderings sal binnekort gehou word.

Hy sê die komitee het volledig ondersoek ingestel en die regsmenings wat bekom is, dui daarop dat daar wel verdienste is om ’n klasaksie in te stel.

“Ek wil dit baie duidelik maak dat hierdie nie ’n aksie is waarin ons alle skuld aangegaan ontken of alle blaam op die instellings wil plaas nie. Ons wil bloot die instellings so ver kry om ook hul aandeel in hierdie situasie te erken en om ons as boere met die nodige respek te behandel.”

Hy beklemtoon dat boere nie in ’n natuurramp alleen die risiko en skuld behoort te dra nie, en dat finansiële instellings daarmee moet help.

Volgens Snyman is die Gautengse prokureursfirma Pagel & Schulenburg, bygestaan deur adv. Conrad Acker van die Johannesburgse balie, gemoeid met die regsgeding. Op sy Facebookblad en in You Tube-video’s het die komitee die bankbesonderhede van Pagel & Schulenburg verstrek met versoeke dat skenkings vir die klasaksie in dié firma se rekening inbetaal word.

Skenkings

Die Bultfonteinse Bewusmakingskomitee het sedert sy stigting onder meer skenkings van sonneblomsaad, diesel en ander landbou-insette aan hulpbehoewende boere uitgedeel. Hy doen ook krisisbestuur waar die nood groot raak en het onlangs kospakkies uitgedeel wat deur die radiostasie Maluti FM van inwoners in Bethelehem ingesamel is.

Dié boere wat skenkings ontvang het, is nou in ’n stryd teen tyd gewikkel om te plant. Volgens mnr. Coenie Fourie, saam met Snyman die medestigter van die Bewusmakingskomitee, is daar reeds 27 000 ha sonneblom aangeplant nadat voldoende reën uiteindelik in Februarie geval het. Boere wat nog werktuie het, leen dit aan diegene wie se toerusting reeds teruggeneem is. Dié aanplantings is vir baie boere ’n laaste, desperate poging om ’n inkomste te verkry om hul plase te probeer red. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.