Dit is ’n snaakse jaar. Die noorde steier onder ’n oorvloed mielies, terwyl die intensiewe veebedryf, wat nou behoort te skep, sukkel met duur en skaars speenkalwers. In die winterreënstreek het die groot reën weggebly. Van die Moederstad af teen die suidkus langs al die pad Port Elizabeth toe, en teen die Weskus op tot in Namibië, waaronder ’n groot kol in die Karoo, bly dit kurkdroog.

Kaapstad en die omliggende gebiede se damme het 25% bruikbare water, teenoor verlede jaar se rapsie meer as 50%. Daar word rondgeskarrel om ontsoutingsaanlegte op dreef te kry, en die reuse- Kaapse waterdraer is in almal se versier. Dit kom egter teen ’n prys, finansieel én ekologies.

Boonop word die bestaande waterbronne, soos boorgate op stadserwe, wat die finale noodvoorraad behoort te wees, steeds gebruik om swembaddens mee te vul! ’n Mens kan net jou kop skud.

LEES OOK: SAID: Belasting of diefstal?

Noustrop

Vlak buitekant Kaapstad trek koringboere noustrop. Naby die kus, in Malmesbury se wêreld, het hulle al 145 mm reën van hul gewone 400 mm per jaar gekry, maar dieper in die Swartland het nie eens 70 mm van die gewone 250 mm uitgesak nie.

In die Suid-Kaap is dit dieselfde storie, en plek-plek word vee al in die koringlande gejaag. Die meeste groenteboere het ook geen kans om hul normale aanplantings in die grond te kry nie. Die 60% minder uie gaan die ekonomie ’n geskatte R500 miljoen kos. Sommige boere meen ook die verwagte verliese weens kleiner aanplantings van aartappels en wortels gaan ’n verdere R1,5 miljard kos.

En wat van die geskatte 20 000 mense wat hul werk gaan kwyt wees? Dit is nog R1 miljard. Daar is ook die verliese van die vee- en saaibedrywe en die impak van voëlgriep. Intussen word die bietjie staatsgeld teen ’n ontstellende spoed verkwis en gesteel. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens waarsku hy gaan vanjaar R50 miljard minder invorder.

Maar mense, veral dié na wie die staat moet omsien, word net meer en werkloosheid bereik rekordvlakke. Met geld en werk wat ál skrapser raak, maak die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) ’n interessante waarneming in sy onlangse verslag. Hy het bevind ’n suksesvolle, opkomende saaiboer met ’n skaflike opbrengs van 5 ton mielies per hektaar in ’n normale jaar, sal 22 t/ha benodig om dieselfde inkomste as ’n intreevlak-mynwerker te verdien. Die groot verskil is natuurlik dat die mynwerker net vir sy skof hoef op te daag, terwyl die saaiboer enorme risiko’s dra.

LEES OOK: Chris Burgess: Hoekom die bloedbad?

Werkskepping

Ek is nie ’n groot aanhanger van die mynbedryf nie — daarvoor is te veel vleilande in Mpumalanga al verwoes — maar met so ’n vergelyking word die mynbedryf se uiters belangrike rol in werkskepping duidelik gestel.

Pleks van om dié bedryf te koester, moes Roger Baxter, hoofuitvoerende beampte van die Kamer van Mynwese, op ’n onlangse mynindaba in Australië aankondig dat alle beleggings in Suid-Afrikaanse bedryf nou opgeskort is. Dít is die gevolg van die eensydige Mynbouhandves wat mnr. Mosebenzi Zwane, Minister van Minerale Hulpbronne, op die bedryf probeer afdwing. (Dit is dieselfde Zwane wat ’n melkplaas by Vrede vir sy Gupta-pêlle op die been gebring het.)

Soos Baxter reguit gesê het: “Die Mynbouhandves se doel is eenvoudig om ’n klein groepie te bevoordeel ten koste van die land.” Nou ja, soos dinge taaier word, begin mense meer reguit praat. Die wegkruipplek word al hoe minder. Maar dit is ’n goeie ding, veral in ’n snaakse jaar, soos vanjaar.

Chris Burgess is redakteur van Landbouweekblad. Hierdie is sy redakteursbrief in LBW van 22 September.