Esterhuyse sê die land se boere is baie ontsteld oor Cele se optrede Maandag op ’n veiligheidsvergadering in die distrik Normandien in KwaZulu-Natal. “Ons het reeds ’n versoek tot die minister van polisie se kantoor gerig vir ’n dringende vergadering om die situasie te bespreek.”

Die organisasie skakel al dekades met die regering as deel van pogings om verhoudings te bou om kwessies wat vir die landbou belangrik is, soos die ernstige kwessies van landelike veiligheid, te bevorder.

Die organisasie gaan ook ’n brief aan pres. Cyril Ramphosa rig om toe te tree tot die situasie en die saak te ondersoek, asook help om oplossings te vind.

Cele se opmerking “Who do you think you are?” teenoor mnr. Roland Collyer, ’n boer van Normandien, was neerhalend en onvanpas, sê Agri SA luidens ’n verklaring. “Daar is geen regverdiging vir woede-uitbarstings óf neerhalende uitsprake deur dié minister nie. Wat veronderstel was om ’n opbouende gesprek tussen die landbougemeenskap en die minister van polisie te wees, het nou in ’n openbare uitval ontaard.”

Regering se plig

Volgens die organisasie is dit die regering se plig om sy burgers te beskerm en het enige burger van die land die reg om met die regering hieroor in gesprek te tree. “Staatsamptenare moet die nodige eerbied handhaaf en te alle tye empatie toon. As hulle daarin misluk, is dit teenstrydig met die Grondwet.”

Dit is die minister van polisie en die polisiediens se plig om sonder vrees en guns aan hul taak uitvoering te gee en die nodige geduld en takt aan die dag te lê om met die samewerking met alle wetsgehoorsame landsburgers oplossings vir die misdaadprobleme in die land. Dié pligte word in die Grondwet uiteengesit.

Die situasie het nie net verhoudings versuur nie, maar hierdie tipe woede-uitbarstings het tot gevolg dat die owerheid die gunstige gesindheid van boere en werkers knou.

“Agri SA het hom nog altyd beywer om deel te wees van die oplossing en die nodige ondersteuning te lewer rakende probleme wat ons ervaar met landelike veiligheid,” sê Esterhuyse. “Dit is jammer dat landelike veiligheid tydens ’n imbizo in ’n politieke debat ontaard het en nie die nodige aandag gekry het wat noodsaaklik is nie”.

Agri SA sê hy bly verbind daartoe om saam met die minister ’n kultuur van wedersydse respek en samewerking te help vestig en te bevorder. “Dit is in ons almal se belang dat misdaad saam beveg word – nou meer as ooit tevore.”